Die Demokratiese Alliansie het Maandag die belangrike gesamentlike vergadering tussen die parlementêre portefeuljekomitees oor landbou en polisie verwelkom. Die vergadering is beskou as ‘n noodsaaklike stap om die toenemende krisis van plaas- en landelike veiligheid in Suid-Afrika aan te pak.
Die DA het die vergadering geprys vir die bevordering van samewerking tussen die departement van landbou en die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Beide ministers – John Steenhuisen (landbou) en Senzo Mchunu (polisie) – het die sessie bygewoon.
“Ons is bemoedig deur die gesindheid van albei ministers en komitees om saam oplossings te vind vir die uitdagings waardeur landelike gemeenskappe in die gesig gestaar word,” sê Willie Aucamp, die DA se woordvoerder vir landbou.
Op die vergadering het die DA sterk gepleit vir:
• beter samewerking tussen die polisie en plaaswagte en ander private veiligheidsinisiatiewe;
• die stigting van ‘n gespesialiseerde eenheid vir landelike veiligheid binne die polisie;
• verbeterde misdaadintelli-
gensie in landelike gebiede;
• beter toegeruste polisiekantore op die platteland; en
• gefokusde optrede teen georganiseerde veediefstal-sindikate.
Volgens Aucamp bedreig plaasaanvalle, plaasmoorde en veediefstal nie net voedselveiligheid nie, maar verwoes ook die lewens van boere en plaaswerkers – die ruggraat van die landbou-ekonomie.
“Misdaadintelligensie in afgeleë gebiede is van kardinale belang vir intelligensie-gedrewe polisiewerk, wat misdaad kan help voorkom voordat dit plaasvind.
“Ook is dit onaanvaarbaar dat polisiebeamptes op die platteland dikwels nie oor die basiese toerusting beskik om behoorlik op noodgevalle te reageer of misdade te ondersoek nie.”
Veediefstal, wat die landbou-sektor jaarliks met meer as R3 miljard se verliese tref, is volgens die DA nie net die werk van individuele misdadigers nie, maar deel van goed georganiseerde misdaadnetwerke. Die party pleit vir spesifieke optredes om hierdie sindikate uit te roei.
“Die DA sal aanhou veg vir die veiligheid, lewensbestaan en waardigheid van almal op die platteland,” het Aucamp gesê.





