Die stryd om mag in die Witzenberg duur steeds voort tussen die DA en GOOD.

Weer eens is aangekondig dat daar op ’n onlangse raadsvergadering ’n nuwe burgemeester, onderburgemeester en speaker verkies is. Die DA hou egter vol dat hierdie verkiesing ook onwettig was. Albei partye beskuldig mekaar dat die inwoners van die Witzenberg se belange nie in ag geneem word nie.

“Die magsbehepte ANC, GOOD en hul koalisievennote het ná die 24ste Julie se raadsvergadering weer onwettig ’n burgemeester en speaker verkies. Die DA veroordeel hul ontstellende pogings in die Witzenberg en elders in die Wes-Kaap om weer relevansie in die provinsie te kry,” het die DA in ’n persverklaring gesê.

Op die vergadering wat op 24 Julie gehou is, was die raad geskeduleer om ’n nuwe onderburgemeester te kies.

“Die raad is geskeduleer om ’n onderburgemeester te verkies, waarna raadslid Gert Laban verkies is. Hierna het die vorige mosie nietig geword en was dus nie deel van die Raad se sake van die dag nie. Die magsbehepte koalisievennote het, nadat die speaker die vergadering verdaag het aangesien daar geen verdere sake was om te hanteer nie, hul eie vergadering gehou in die afwesigheid van ’n voorsittende beampte soos voorgeskryf in Artikel 29 van die Wet op Munisipale Strukture. Hulle het weer onwettig opgetree.”

Die DA is van mening dat GOOD en die ANC nie meer vertrou kan word nie. “Soos gesien die afgelope paar weke, maak GOOD saam met die ANC ’n bespotting van ons Grondwet en raadsprosesse. Hierdie partye kan nie meer vertrou word met inwoners se stem nie – hulle gee net om oor mag en posisies, en hulle laat na om die inwoners te oorweeg wat hulle veronderstel is om te dien. Die huidige burgemeester, Hennie Smit, en speaker, Elizabeth Sidego, bly in hul poste as die wettig verkose ampsdraers, en saam met koalisievennote sal ons voortgaan om die inwoners van Witzenberg te dien,” het die DA in ’n persverklaring oor die situasie gesê.

Volgens Brett Heron van GOOD is die vergadering gehou om die burgemeester en speaker te verwyder en om nuwe ampsdraers te verkies.

“Die Witzenberg-raad is byeengeroep om mosies te oorweeg om die speaker en burgemeester te verwyder en om ’n nuwe burgemeester, onderburgemeester en sseaker te verkies. Toe die DA sien dat hulle die raadstem gaan verloor en uit die amp gestem word, het die speaker die vergadering onregmatig verdaag. Die munisipale bestuurder is bedoel om ’n raadsvergadering voort te sit om ’n waarnemende speaker te kies indien die speaker nie teenwoordig kan wees nie of om voort te gaan met ’n vergadering. In plaas daarvan om sy wetlike pligte na te kom, het die munisipale bestuurder ook uit die vergadering gestap. Daarom het die DA, met die hulp van die munisipale bestuurder, doelbewus ’n vergadering wat wettig belê is, in duie laat stort omdat hulle die mag gaan verloor. Die raadslede wat oorgebly het, het voortgegaan met die vergadering en verkiesings gehou. Dit was nie die korrekte proses om te volg nie – die LUR vir plaaslike regering moes gevra word om ’n amptenaar te sekondeer om die vergadering voor te sit om ’n nuwe burgemeester en speaker te kies.

“Maar die LUR vir plaaslike regering is natuurlik ’n DA-lid en gaan nie saamwerk nie. Verskeie opposisiepartye het Dinsdag prokureurs geraadpleeg. As die DA van voorneme is om voort te gaan om demokrasie te ondermyn, sal ons die hooggeregshof nader en ’n bevel vra wat hulle dwing. Ons glo nie dat die inwoners van Witzenberg moet betaal vir die regskoste van die DA se magsmisbruik nie. Ons instruksies sal wees om ’n bestraffende persoonlike kostebevel teen die DA-speaker te kry.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article