Sedert dit rugbaar geword het dat Eskom die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) gevra het om ’n 40%- elektrisiteitsprysverhoging goed te keur, het die Demokratiese Alliansie landswyd ingespring en ’n petisie begin sirkuleer waarin Suid-Afrikaners gevra word om te teken sodat die uitspattige versoek nie goedgekeur word nie.
Eskom het elektrisiteitspryse sedert 2007 reeds met 450% verhoog.
Op nasionale vlak het die Demokratiese Alliansie reeds aan die werk gespring om die beoogde verhoging te beveg:. DA-burgemeesters landswyd het aan Nersa geskryf en beswaar teen die beoogde verhoging aangeteken, wat Eskom op munisipaliteite landswyd wil afdwing;. DA-parlementslede het reeds ’n debat in nasionale belang oor die aangeleentheid in die Nasionale Vergadering aangevra;. Die DA se aanlynpetisie het teen 10 September reeds 75 067 handtekeninge landswyd ingesamel.
Die Demokratiese Alliansie het ook in die Breedevallei sy stem dik gemaak teen hierdie tariewe en met ’n petisie begin om soveel handtekeninge as moontlik vanuit alle wyke teen hierdie beoogde 40%-elektrisiteitsprysverhoging te bekom.
Die veldtog het nou al so momentum opgebou dat – toe die groep aktiviste op Dinsdag 10 September in die etenstyd in wyk 7 by die De la Batweg- en Rouxweginterseksie gestaan het – hulle daarin geslaag het om 235 handtekeninge binne ’n uur in te samel.
Hierbenewens is daar ook aktiviste wat met die petisie in verskillende woonbuurte van huis tot huis beweeg en vra dat inwoners die petisie onderteken.
’n Paar dae gelede het die Demokratiese Alliansie ’n nasionale debat oor die beoogde elektrisiteitstariefverhogings in die Nasionale Vergadering aangevra. Die Speaker het die versoek toegestaan en die nasionale debat gaan op 19 September plaasvind.
Die druk van die Demokratiese Alliansie se landswye veldtog is reeds besig om te begin vrugte afwerp, aangesien Nersa reeds persverklarings teen die druk begin uitreik uitreik het.




