Clovers Krieketklub het behoorlik gebrul die afgelope vyf naweke. Dit volg nadat die klub, wat al klub is met twee spanne in die Burgemeester Vlakkiekrieket-kompetisie, hulself goed van hul taak gekwyt het in die eerste ronde.
Die A-span van Clovers bevind tans hulself bo-aan die punteleer in hul groep danksy vyf wenne in vyf wedstryde terwyl die B-span hulself derde bevind. Op Sondag 10 Desember moes Orchard United met hul stert tussen hul bene terugkeer huis toe nadat die A-span behoorlik met hulle afgereken het. Dis danksy indrukwekkende boulwerk deur die boul- aanval van Clovers met die veteraan, Warren Davids, wat twee paaltjies laat kantel het sowel as Meshaan Charlies.
Orchard United kon ’n billike 92 lopies aanteken in hul 15 toegelate boulbeurte. Vir Orchard United het Alvirno Bosman uitstekend gevaar met 52 lopies. Ten einde laaste was die 92 lopies hopeloos te min vir die ervare kolwers van die Roodewaliete. Mario Marinus het gesorg vir ’n blitsige 54 lopies terwyl die speler van die wedstryd, Warren Davids, 38 lopies bygedra het. Dit het Clovers A laat wegstap met ’n oorwinning van 10 paaltjies in slegs 14 boulbeurte.
Op ’n warm dag het Clovers Krieketklub hulself laat geld. Volgens Fyrin Hendricks, kaptein van Clovers, is die span op ’n goeie plek. Maar hy bevestig ook dat die span nog absoluut niks bereik het nie. “Ek dink dis belangrik om dit wedstryd vir wedstryd te vat. Dis wat nog al die pad vir ons gewerk het en dis die filosofie wat ons tans het. Ek besef dat hoogmoed gou-gou aan jou deur kan klop met so baie oorwinnings, maar ons is ervare genoeg om ons self nederig te hou.”


