Met sy diep stem wat van enige lied ’n oorwurm maak is dit duidelik waarom Cheswyn Ruiters in Julie aangewys is as Maak my Famous se eerste wenner.

Cheswyn se enkelsnit is eersdaags beskikbaar.

Cheswyn se enkelsnit is eersdaags beskikbaar.

Cheswyn se enkelsnit “A Reason” word op Vrydag, 30 Augustus landswyd vrygestel en beloof om sy aanhangers, en dié wat die borrelende Worcesteriet nog nie ken nie, verlief te maak op sy stem. Met mengsels van Pop, Rock, R&B en Jazz hoop hy om met hierdie inspirerende lied ’n boodskap van hoop en ywer aan die wêreld te bring.

“Ek is vreeslik opgewonde vir almal om die enkelsnit te hoor. Ek is dankbaar vir Jarrad Ricketts wat die lied geskryf het en aan my toevertrou het. Dit is ’n besondere liedjie en die boodskap reflekteer so baie van my lewe en die pad wat ek moes stap om my drome te volg,” het Cheswyn aan Standard gesê.

’n Verkorte weergawe van die liedjie is as voorsmakie beskikbaar op sy sosiale media en kan vergelyk word met internasionale treffers soos dié uit die trefferfilm, The Greatest Showman en musiek deur Sam Smith en Pink.

Cheswyn wat sy grondslag, passie en liefde vir musiek in die kerk gevind het vertel verder dat hy baie dankbaar is vir Emo Adams wat hom oplei en die geleentheid gee om te doen wat hy nog altyd wou doen.

“Een ding wat mense nie weet nie is dat Emo nooit slaap nie. Hy werk en lewe vir die liefde van musiek. Een aand tydens Maak my Famous se repetisies was ek al in die bed en die volgende oomblik word ek wakker geklop en gesê hy het ’n idee vir ’n liedjie en dat ek moet kom luister – hy slaap net nie,” skerts Cheswyn.

Hy sê hy kyk op na Jarrad Ricketts en droom daarvan om eendag saam met internasionale superster, John Legend op te tree. Sy enkelsnit is reeds beskikbaar om vooraf af te laai op alle digitale platforms en sal middernag op 30 Augustus beskikbaar wees.

Cheswyn is op 7 September te sien by sy alma mater, Worcester Gimnasium vir ’n spesiale vertoning saam met Emo Adams en ander plaaslike kunstenaars. Vir verdere inligting kontak vir Divine by 084 624 6124.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article