Cameron Hufke onderweg na een van sy drie drieë in verlede week se Boland Kavaliers-sege teen die Valke.Foto: Ernest Kilowan

Credit: SYSTEM

Die skare het behoorlik gejuig toe die Boland Kavaliers op Saterdag 24 Junie in Wellington 42-12 teen die Valke van Gauteng gewen het, met veral die kranige Ceresiet Cameron Hufke (25) wat toeskouers op die punt van hul stoele laat sit het.

In die eindronde van die Curriebeker se eerste divisie-trofee het Hufke (heelagter) beslis nie op hom laat wag nie, en die een ná die ander drie gaan druk. Hy het teen die einde van die wedstryd met ’n driekuns aan drieë gespog.

Volgens dié kranige rugbyspeler het hy reeds van jongs af ’n liefde vir die sport ontwikkel toe hy en van sy vriende gereeld op ’n klein veld naby aan sy grootwordhuis op Ceres ’n bal gaan skop het.

Daar het die gogga gebyt en Hufke het enduit tot en met matriek by die Hoërskool Noord-Kaap, waar hy ’n rugbybeurs losgeslaan het, rugby gespeel, het hy telefonies aan Standard vertel.

In 2015 het hy reeds vir die eerstespan gespeel as ’n gr.10-leerder, en in 2016 het hy vir die Griekwas in die Cravenweek-skoletoernooi se A-span gespeel.

Nadat Hufke sy skoolboeke in 2017 toegemaak het, het hy sy liefde vir rugby voortgesit toe hy by die o.21 Bulle-span aangesluit het, en in 2018 vir die Universiteit van Pretoria (Tukkies) se varsity­bekerspan uitgedraf het.

Hierdie hoofstukke is egter kortgeknip omdat hy sy studies opgeskort het.

Kort voor die Covid-19- pandemie in 2020 het Hufke by die SAS-sewesakademie in Stellenbosch aangesluit, maar dié hoofstuk is ook vroeg gestaak weens die inperkings.

In 2022, nadat die wêreld gaan stilstaanv het, en sy skouer genees het ná ’n operasie in 2021, kon Hufke uiteindelik weer op die veld uitdraf – dié keer as deel van die Boland Kavaliers.

Hy het nog baie rugbydrome, wat insluit om vir ’n groter rugbyunie te speel en eendag, “as die Here my spaar”, vir die Springbokke uit te draf. Sy raad aan ander toegewyde rugbyspelers is om “nooit op te hou droom nie”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article