Die Ceres-sakekamer, ofte wel die Ceres Besigheidsinisiatief (CBI) soos dit van 2005 af bekendstaan, is al sedert November 1936 op die been en ’n integrale deel van die Ceres-gemeenskap, waar dié organisasie by verskeie projekte in die dorp betrokke is.
Standard het by die organisasie gaan aanklop om te hoor presies hoe die bestuur ’n jare lange sukses van die besigheidsinisiatief maak.
“ ’n Sakekamer en ’n munisipaliteit moet saamwerk. ’n Gemeenskap is afhanklik van ’n munisipaliteit, en daarom help die [Ceres-] sakekamer die munisipaliteit,” volgens Hannes van Shalkwyk, die entrepreneursprojekleier asook waarnemende bestuurder van die CBI.
Van Schalkwyk het verduidelik dat daar verskeie projekte is waarby die munisipaliteit nie uitkom nie, soos om gereeld rommel van die strate af op te tel, of om staatskole finansieel by te staan, en dit is dan waar die CBI inkom.
Volgens hom staan die besigheidsinisiatief die Witzenberg-munisipaliteit deur die jare met verskeie projekte by, wat tans vele regmaak- en regruk-projekte insluit, soos om infrastruktuur van Ceres op ’n gereelde basis op te gradeer, tuine netjies te hou, geldinsamelings asook ’n “skoon veld”-program, wat indringerplante in die Ceres-fynbosnatuurreservaat verwyder.
Verskeie infrastruktuur-opgraderings word gedoen, soos om vullisdromme in Ceres se hoofstraat aan te bring en sypaadjies te plavei.
’n Ander projek was die bou van die ingangstruktuur in Prince Alfred Hamlet, wat besoekers met ’n mooi kenteken groet.
Buiten die verwydering van indringerplante, sluit die “skoon veld”-program ook in om staproetes en naamborde reg te maak asook die veiligheid binne die natuurreservaat deur onder meer gereelde patrollies op te gradeer.
Nog ’n projek is Food for Witzenberg, waar die sakekamer altesaam 5 200 kospakkies gevul met stapelvoedsel teen R150 aan minderbevoorregtes verkoop, het Van Schalkwyk gesê.
Geldinsamelings sluit in om die salris van twee onderwysers by St. Marks Primêre Skool te betaal, skoolhoofde en onderwysers op te lei deur die landswye Partners for Possibility-projek en die stigting van ’n matriekfonds waar matriekleerders se tersiêre studies gedek word.
Die inisiatief het tussen 2017 en 2022 reeds 20 studente bygestaan.
Tans pronk die CBI met 150 lede, wat insluit die Ceres Spar, Ceres Build It, en Ceres-vrugteprodusente.
Van Schalkwyk het ook verduidelik die inisiatief het 25 klein ondernemings die afgelope agt jaar bygestaan om hulle deur finansiële bydraes op die been te bring sodat dié ondernemings kon oorleef en groei.
Die Ceres-sakekamer is in 2021 as ’n finalis van die sakekamer van die jaar-kompetisie benoem.
. Indien enigiemand by die Ceres-sakekamer of by ’n spesifieke projek wil aansluit, skakel 083 270 7713 of stuur e-pos na manager@cerescbi.co.za





