Wyle Christine Walters (74). Foto: Facebook/ Christine Walters


Die Ceres-polisie het drie mans in hegtenis geneem na die skietdood van ’n vier-en-sewentig jarige vrou verlede Vrydag op ’n plaas in die Ceres-Karoo naby Calvinia.

Volgens berigte is Christine Walters die betrokke Vrydagaand naby haar plaashuis op Papekuil-plaas gevind met ’n skietwond aan haar kop. Haar hande was glo met dik draad agter haar rug vasgebind, en daar was ’n gordel om haar nek.

Volgens kaptein FC van Wyk, die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het ’n plaaswerker in die vroeë oggend ure ’n geweerskoot gehoor in die rigting van die plaashuis.

“Hy het gaan ondersoek instel waarna hy drie verdagtes by die eienaar se huis gesien het,” het Van Wyk in ’n persverklaring verduidelik.

Die plaaswerker het toe na die buurplaas gehardloop vir hulp.

Die Ceres-polisie was toe ook ingelig, en met hul aankoms het Walters se liggaam “sowat” 60 meter van die plaashuis gelê met ’n haelgeweer wat ’n paar meter van haar af gelê het.

Drank en vuurwapens is uit die oorledene se woning geneem, en diefstal is volgens Van Wyk die motief vir die moord.

Weens vinnige en noukeurige ondersoek deur die polisie, is drie verdagtes spoedig in hegtenis geneem. Een van hulle is as ’n voormalige werknemer geïdentifiseer.

Willem Olivier (48), Kelvin Vlok (22), en ’n 17-jarige seun, wie se indentitiet weerhou word weens sy ouderdom, is in hegtenis geneem en het Dinsdag in Ceres-landdroshof verskyn. Hulle bly in aanhouding.

Hiérdie nuus kom ook na die nuutste misdaadstatistieke wat in middel Februarie bekendgestel is en wat ’n 10% styging in moord in die land aandui.

Die Ceres-polisie het nog nie op die Standard se navrae gereageer nie. Standard sal die berig opdateer sodra nuwe inligting ingewin word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article