Die twee broers wat as skoolseuns deur die strate van Ceres gedraf het, sou nooit kon droom dat hulle minder as ‘n dekade later saam op die internasionale verhoog sou aantree nie.
Die blitsige langasembroers, Nadeel (29) en Adrian (28) Wildschutt, tree komende Sondag (11 Oktober) saam vir die Chicago-maraton in Amerika aan.
Dit is Adrian se debuut in die maraton, nadat hy in Maart vanjaar die eerste Suid-Afrikaanse atleet geword het om die New York City-halfmaraton te wen.
LEES OOK: Wildschutt eerste oor New York-halfmarathon se wenstreep
Adrian het hom as een van Suid-Afrika se beste langafstand-atlete bewys, as die land se enigste atleet wat deur beide die 13-minutegrens vir die 5 000m en die 27-minutegrens vir die 10 000m kon breek. Hy hou ook die nasionale rekord in die 3 000m (7:32), 5 000m (12:55) en 10 000m (26:50).
Dit is Nadeel se tweede maraton, nadat hy verlede Desember ‘n indrukwekkende tyd van 2:09:40 in die Marathon Project in Arizona, Amerika opgestel het.
Oë op SA rekord
Nadeel moes vroeër vanjaar aan die Kaapstad-maraton onttrek nadat hy ‘n besering tydens ‘n oefenkamp in Potchefstroom opgedoen het.
Adrian was die pasaangeër in vanjaar se Kaapstad-maraton.
“Ek was aanvanklik net veronderstel om die pas aan te gee tot op 21km, maar het besluit om die atlete vir nog 4km te help en het aangehou tot by 25km. Ná dit wou ek myself oor die volgende 10km toets. Dit was ‘n waardevolle ervaring vir my gewees en het my baie insig gegee in my maraton-potensiaal,” het Adrian in ‘n Facebook-plasing geskryf.
“Ek het baie moeg geraak by om en by 33 tot 35km, maar as ‘n mens in ag neem dat ek nie regtig spesifiek vir die maraton geoefen het nie, het dit my laat besef dat daar nog baie plek vir verbetering is.”
Die twee broers se oë is stewig op Elroy Gelant se Suid-Afrikaanse maraton-rekord van 2:05:36 gerig.
“Om hierdie debuut langs my broer, Nadeel Wildschutt, te maak, is ekstra spesiaal,” het Adrian geskryf.





