Vir die topkandidaat by Montana Hoërskool, Carli Jacobs, het die agt A-vakgemiddeldes en ’n algemene gemiddeld van 91,6% bloedsweet gekos.
Jacobs het die week in ’n onderhoud met Standard genoem dat sy steeds voel sy kon beter gedoen het, maar oor die algemeen is sy ‘dankbaar en tevrede’ met haar uitslae.
“Om deur ’n pandemie te studeer was glad nie vir my ’n uitdaging nie. Ek was mal daaroor om in die gemak van my eie kamer skool te gaan,” vertel dié toekomstige mediese student.
Die internet het wel aan die begin probleme gegee, maar haar ouers het blitsig daaraan aandag gegee en Jacobs kon toe volstoom aan die werk spring.
“Die lekkerste ding was dat ek op my eie tempo kon werk en my tyd produktief kon bestuur. Ek verpes slegte tydbestuur.”
Sy sal in 2021 haar mediese droom by die Stellenbosch Universiteit voorsit.
Haar selfgedissiplineerdheid behoort haar in haar tersiêre opvoeding goed te dien om doelgerig te bly.
“Ek hou daarvan om vir myself duidelike doelwitte te stel, wat om elke dag aan te pak. Gedurende die matriekeindeksamen het ek ’n rooster vir elke vak gehad en het daagliks hiervan werk gemaak.”
Jacobs sê om tyd vir ontspanning in te werk is ook belangrik om sukses te behaal.
“Ek het selfs Vrydagmiddae ekstra wiskundeklasse bygewoon om sukses in die vak te verseker. My ondersteuningsnetwerk was ook goed en is geseënd om ’n groot familie te hê met my vierpootvriend, Chika, wat my studiebreke vol genot gemaak het.”
Haar ouers was daar om haar gereeld moed in te praat as sy deur die jaar hier en daar met ’n toets nie soos verwag presteer het nie. Dit het haar sommer weer vinnig op die pad na sukses gebring en vandag kan sy met ’n glimlag terugkyk na haar pad na sukses.
“Onderwysers moet ook krediet kry vir hul ondersteuning. Een onderwyser is my fisiese wetenskap-onderwyser, Janneke Young, wat altyd daar was as ek op haar knoppie gedruk het. Selfs in die aande kon ek haar kontak en sy was gereed met ’n video-verduideliking.”
Jacobs het die onderhoud afgesluit met die woorde: “Moenie ’n slagoffer van jou omstandighede wees nie.” Woorde wat sy verseker by leef en wat sy bewys het sy kan oorkom.




