Emmanuel Booysen deel ’n drukkie met sy suster, Qaanita Salie, nadat hy Vrydag sy matriekuitslae ontvang het.Foto: Tamsyn Jantjies


Die matriekklas van 2022 se uitslae is die afgelope Vrydag (20 Januarie) ná ’n lang wag bekend gemaak, en opgewonde gesigte het die Worcester Standard-span by verskeie skole in die dorp ingewag.

Talle 2022-matrieks het die pad na hul onderskeie skole aangepak en hul matriekuitslae, wat die pad na die grootmens-wêreld vir hulle verder oopkerf, met opwinding afgehaal.

Die Wes-Kaap het ’n effense styging in die slaagsyfer getoon met 81,4% teenoor 81,2% in 2021.

Altesaam 70 skole het ’n slaagsyfer van 100% behaal, en agt skole geniet ook 100%-universiteitstoelating.

Ten spyte van hierdie mylpale is die matriekuitslae vir die Kaapse Wynland nie te waffers nie, en die streek het met 77% die laagste slaagsyfer in die Wes-Kaap getoon, sê David Maynier, LUR vir onderwys.

“Die departement is verheug dat die Wes-Kaapse matriekklas van 2022 toegesien het dat die provinsiale matriekslaagsyfer tot 81,4% gestyg het nadat 49 102 kandidate hul eindeksamen geslaag het – die grootste getal suksesvolle kandidate wat die provinsie nóg gehad het,” het Maynier verduidelik.

“Belangriker nog, elk van ons suksesvolle kandidate het ’n matriekslaagsyfer ontvang wat hulle in aanmerking bring om by tersiêre instellings aansoek te doen,” het Maynier verduidelik.

Die Hoër Tegniese Skool (HTS) Drostdy het ’n slaagsyfer aangemeld van 98,9% en ’n 77,8%-keuring vir tersiêre onderrig. Die toppresteerder is Gerhard Burger met ’n 97,2%-gemiddeld. Hy was ook die skool se hoofseun.

Die Hoërskool Montana het ’n 97,6%-slaagsyfer aangemeld, met die toppresteerder, Edmarè Fortuin, wat ’n 91,9%-gemiddelde behaal het, en sewe A’s. Altesaam 84,1% van hierdie skool se leerders het ook universiteitsvrystelling behaal.

Worcester Gimnasium spog met ’n slaagsyfer van 98,8% en 87,3% van hul leerders het ook universiteitsvrystelling. Nadia Botha en Karl Johann Klüsmann is die skool se toppresteerders, met beide ’n 94%-gemiddeld en 7 A’s.

Verder het 40,5% van Worcester Sekondêre Skool se matrieks geslaag, met 9,2% wat universiteitsvrystelling behaal het. Lucresia Sedras is die skool se topleerder met 67,5% as gemiddeld.

Die Hoërskool Zwelethemba het ’n 51,5%-slaagsyfer behaal, en 24,3% van die skool se leerders kwalifiseer om te studeer by ’n tersiêre instelling. Kiara Hendricks was die skool se toppresteerder met 83,14% as gemiddeld.

Die Hoërskool Breërivier het ’n 62%-slaagsyfer, en hul toppresteerder is Jordan Louw met ’n gemiddelde van 65%.

Die Pionierskool in Worcester het ’n 88,8%-slaagsyfer met 44,4% van leerders wat universiteitsvrystelling ontvang het. Adrienne Murray is aangewys as die toppresteerder met ’n gemiddeld van 75,4% en 4 A’s.

Langerugskool in Worcester vir leerders met spesifieke leerbehoeftes het ’n 100%-slaagsyfer en hul toppresteerder is Carel van der Merwe met ’n 74%-gemiddeld.

Esselenpark Senior Sekondêre Skool het ’n 57,7%-slaagsyfer behaal, en ’n 10,8% van leerders het keuring vir tersiêre onderrig.

Die Hoërskool Hexvallei in De Doorns het ’n 91,1%-slaagsyfer met ’n 44,6%-universiteitsvrystelling.

Verder het Hexvallei Sekondêre Skool het ’n 45,4%-slaagsyfer, en 6,3% van die skool se leerders kwalifiseer om te studeer by ’n tersiêre instelling. Die skool se topmatrikulant is Shaquile Saunders met ’n gemiddeld van 70% en drie B’s.

Volgens Shaguile het hy sy matriekeindeksamen in moeilike omstandighede geskryf weens sy geliefde ouma se afsterwe tydens die eksamen.

“Dit was baie moeilik vir my omdat my ouma ’n groot rol in my lewe gespeel het, en ook as motivering vir my gedien het, maar ek het myself vertroos met die feit dat my ouma sou wou hê ek moet suksesvol wees en vandag is ek bly ek kon haar trots maak en weet sy glimlag uit die hemel na my,” het Shaguile vertel.

Shaguile is aanvaar by CPUT om onderwys te studeer.

Hoërskool De Villiers Graaff in Villiersdorp het ’n slaagsyfer van 96.3% aangemeld met 34 A-simbole in die verskeie vakke wat die skool aanbied. Carolé Franken is die skool se toppresteerder met 87,4% en sewe A’s. Altesaam 74,1% van die skool se matrikulante het ook universiteitsvrystelling behaal.

Villiersdorp Sekondêre Skool het ’n 86,6%-slaagsyfer, en vir die eerste keer in die skool se geskiedenis meer as een A-kandidaat. 2022 se toppresteerder is Jerusha Armoed met 83,4%, en haar opvolger is Yolan Dykes met ’n 81,8%-gemiddeld. Altesaam 22,4% van die matrieks het ook universiteitsvrystelling.

Hoërskool Tulbagh het ’n 35,5%-slaagsyfer, en ’n 10,3%-keuring vir tersiêre onderrig. Die skool se toppresteerder, Naydine Swarts, het ’n gemiddeld van 73.88%.

Ceres Sekondêre Skool het ’n 83,6%-slaagsyfer, en 24,4% van dié leerders het universiteitsvrystelling ontvang.

Wolseley Sekondêre Skool het ’n 83,5%-slaagsyfer ontvang, met 31,9% van die skool se leerders wat universiteitsvrystelling gekry het.

Hoërskool Charlie Hofmeyr het ’n 97,6%-slaagsyfer behaal met ses kandidate wat A-gemiddeldes behaal het. WD Muller was die skool se toppresteerder met 93,9% as gemiddeld. Altesaam 80,2% van die leerders het universiteitsvrystelling.

Die distrikslaagsyfer vir 2022 is soos volg:

  • Kaapse Wynlande 77,47%;
  • Eden en Sentraal-Karoo 83,44%;
  • Metro-Sentraal 83,89%;
  • Metro-Oos 78,29%;
  • Metro-Noord 85,46%;
  • Metro-Suid 78,48%;
  • Overberg 83,87%; en
  • Weskus 78,89%.

Maynier het leerlinge herinner dat aansoek gedoen kan word om aanvullende eksamens te skryf of hul antwoordstelle te laat hernasien.

Indien ’n kandidaat sy/haar prestasie wil verbeter weens ’n druiping, kan die persoon registreer om die Mei/Junie 2023 NSS-eksamen te skryf, volgens Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys.

“Let daarop dat die registrasie onderhewig is daaraan dat kandidate die matriekeksamen gedurende die tydperk November 2008 tot November 2022 moes geskryf het en oor punte vir taal-mondelinge en praktiese assesseringstake in die toepaslike vakke moet beskik,” het Merton verduidelik.

Kandidate mag ook nie vir enige nuwe vakke in die Mei/Junie 2023-matriekeksamen registreer nie.

Alle kandidate wat vir toelating tot die Mei/Junie 2023-matriekeksamen kwalifiseer, moet ’n aansoekvorm voltooi op die Wes-Kaapse onderwysdepartement se webtuiste. Die sluitingsdatum is 08 Februarie 2023.

Die name van die topskole in die provinsie sal op 2 Februarie aangekondig word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article