Die aanvraag na verblyf tydens die jaarlikse Absa Cape Epic was so oorweldigend dat inwoners van Montagu selfs hul private huis vir dié doel beskikbaar gestel het.
So sê Mareletta Munday, bestuurder van Montagu-Ashton Toerisme, aan Standard Breederivier Gazette nadat dié dorp (Montagu) tussen 16 en 18 Maart gasheer vir die alombekende fietstoer gespeel het.
Volgens haar het die dorp – terwyl die fietstoer in Montagu reeds aan die gang was – nog steeds navrae vir akkommodasie gekry.
Munday sê Montagu-Ashton Toerisme kon daarin slaag om sover moontlik verblyf te verskaf aan die algehele besoekersgetal, waaronder sowat 1 500 deelnemers, 1 100 personeellede en 1 500 toeskouers.
“Montagu (Ashton ingesluit) het omtrent 2 000 beddens beskikbaar – kampeerterreine uitgesluit – onder normale omstandighede.
“Daarmee saam is verskeie huise ook beskikbaar gestel en selfs nuwe akkommodasie-aanbiedinge tot die prentjie gevoeg in die aanloop tot die Epic.
“As ek moet skat, was ons seker so 2 800 beddens vol.”

Munday sê wat ook in gedagte gehou moet word, is dat Montagu boonop ‘n baie gewilde vakansie-bestemming is en hierdie tyd van die jaar groot getalle buitelandse besoekers kry.
Volgens haar kon Montagu-Ashton Toerisme ook dié besoekers in hierdie besige tyd akkommodeer.
Munday sê hul grootste uitdaging was dat almal so na as moontlik aan die Epic Village wou wees.
“Ons akkommodasie is egter uitgesprei oor die groter landelike gebied en sluit dan ook meer afgeleë plekke in.
“Hierdie was nie die beste opsies nie, want wegspring is vroeg in die oggend en deelnemers se tyd is beperk.
“Oor die algemeen word akkommodasie, soos kamers, uitverhuur vir twee mense, maar met die Epic-deelnemers is dit baie enkelkamers – wat dan ook die aanbod van beddens met een mens per bed beperk.”
Volgens Munday het groot plaashuise goed te pas gekom waar groepe verblyf gesoek het.
Sy sê vir meer as ‘n jaar voor die Epic is werksgeleenthede vir die plaaslike gemeenskap geskep toe daar in samewerking met Montagu Trails aan die fietsry- roetes gewerk is.
Volgens haar is ‘n span opgelei om tydens die Epic toerisme-ambassadeurs te wees.
Munday sê restaurante het tydens die Epic hul bedryfsure verleng, wat beteken dat bykomende personeel aangestel is.
Sy sê daar was ook geleenthede vir kosverkope by verskeie toeskouerpunte en ‘n spesiale straatmark wat oor drie aande in Kerkstraat plaasgevind het.
Volgens Munday was plaaslike fisio- terapeute ook baie bedrywig in dié tyd.
Sy sê voorts die Cape Epic hou ‘n “wonderlike finansiële inspuiting” vir die ekonomie van beide Montagu en Ashton asook die groter Langeberg-munisipale gebied in. – Enrico Claassen





