Die burgemeester, Antoinette Steyn (voor; middel), saam met lede van Worcester se junior stadsraad.

Om te verstaan hoe die regering werk, is die eerste stap om ‘n verskil te kan maak – en Worcester se junior stadsraad het dié les eerstehands gekry.

Raadslede van die junior stadsraad het verlede Donderdag (11 September) ‘n opvoedkundige werksessie by die kantoor van die Breedevallei-munisipaliteit in Worcester bygewoon, waar hulle geleer het oor die drie regeringsvlakke, wat plaaslike, provinsiale en nasionale regering insluit.

Die burgemeesterskomiteelid Palesa Moso het aan die jong stadsraadslede vertel hoe sy haar van ‘n persoonlike assistent in die kantoor van die burgemeester tot burgemeesterskomiteelid opgewerk het.

Hierna was verteenwoordigers van die regering se kommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS) en die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) aan die woord.

Peter Titus van die GCIS het verduidelik hoe die drie regeringsfere werk, terwyl Stephanie Steinberg van die OVK die belangrikheid van stemreg en jeugdeelname in die 2026-plaaslike-regering-verkiesing beklemtoon het.

Titus het die struktuur van die drie regeringsvlakke en die verskillende posisies wat mense in hulle beklee, verduidelik. Hy

het ook uitgelig hoe elke vlak verskillend werk – die plaaslike regering fasiliteer dienste op gemeenskapsvlak, die provinsiale regering bestuur groterskaalse verantwoordelikhede, terwyl die nasionale regering oor die werke van dié twee regeringsvlakke toesig hou. Dit het die jong

raadslede gehelp om die rolle en verantwoordelikhede op elke regeringsvlak te verstaan. Titus het ook klem gelê op die belangrikheid van regeringstoesprake, waaronder die staatsrede, begrotingsrede en provinsiale staatsrede.

Daarbenewens het hy die tydsberekening van die fiskale jaar, wat in April begin, verduidelik – in ooreenstemming met baie regerings se boekjare om bestendige begroting en beplanning te verseker.

Die OVK het raadslede by monde van Steinberg aangemoedig om deel te wees van die demokrasie deur in die komende 2026-plaaslike-regering-verkiesing te stem.

Sy het beklemtoon hoe belangrik dit is om jeugverteenwoordigers in die verskillende regeringsomgewings te hê en beklemtoon die stemme van vandag se jeug maak saak wat die vorming van beleide en besluite wat gemeenskappe raak, betref.

Die werksessie was interaktief en raads-

lede het die geleentheid gehad om met Titus en Steinberg te kommunikeer. Dit het hulle in staat gestel om hul begrip oor regeringsfunksies en die rol van die jeug in ‘n demokrasie beter te begryp. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article