Breedevallei-munisipaliteit span swaar masjinerie in om verspreiding van indringerplant te bestuur

Die plantegroei is só dig dat die water glad nie sigbaar is nie. Selfs kiewiete loop bo-op die water en takke en rommel is ook duidelik sigbaar. Foto: Ronél van Jaarsveld

Breedevallei-munisipaliteit span swaar masjinerie in om verspreiding van indringerplant te bestuur

Die plantegroei is só dig dat die water glad nie sigbaar is nie. Selfs kiewiete loop bo-op die water en takke en rommel is ook duidelik sigbaar. Foto: Ronél van Jaarsveld

WORCESTER: Die Breedevallei-munisipaliteit het pogings verskerp om die Salvinia molesta-infestering by die Montanadam in Worcester te bekamp deur swaar masjinerie in te span nadat biologiese beheermaatreëls onvoldoende was om die vinnig verspreidende indringerplant te bestuur.

Die hoogs indringende drywende wateronkruid, wat die hele oppervlak van die kleiner dam tussen die Hoërskool Montana en Mountain Mill-rylaan bedek, is nie ‘n nuwe uitdaging vir die munisipaliteit nie. Verskeie jare gelede het die dam so erg toegegroei dat dit byna ‘n jaar geneem het om skoon te maak.

Standard Breederivier Gazette het in Maart berig dat die munisipaliteit aanvanklik salvinia-kalanders vrygelaat het om die probleem op ‘n biologiese wyse te bestuur (“Kalanders help om plantpes in dam in Worcester te beheer”, 19 Maart 2026). Die insekte, verkry van Rhodes-universiteit, is op verskeie plekke tussen die riete geplaas.

In die larwe-stadium vreet die kalanders die plant se groeipunte en wortels, terwyl ouer larwes in die risoom ingrawe, wat veroorsaak dat blare afval. Volwasse insekte vreet die blare, en beskadigde plante sink na die bodem van die dam, waar dit mettertyd vergaan.

Hoewel dié metode doeltreffend is, verg dit geduld om te wag dat die natuur sy gang gaan. Namate temperature styg, vermeerder die kalanders en hul voedings­aktiwiteit veroorsaak dat die onkruid afsterf, sonder om inheemse plante te bedreig.

LEES OOK: Projek mik na biohoutskool uit indringerbome; herwin van weiding in Hantam

Die erns van die huidige infestering het egter onmiddellike optrede genood­saak. Die munisipaliteit se parkespan het reeds op twee geleenthede ingegryp deur ‘n masjiengraaf in te stuur om soveel Salvinia molesta as wat sy arm kon bereik, te verwyder. Die eerste poging is op 5 Augustus uitgevoer, maar die span is weens slegte weerstoestande gedwing om te onttrek voordat die werk voltooi kon word.

‘n Tweede ingryping het op 1 September gevolg toe die masjiengraaf weer ontplooi is om bykomende groei te verwyder.

Die verwyderde plante is ná albei optredes met ‘n kipperwa wegvervoer en die gebied is skoongemaak.

Om te verhoed dat die onkruid na die Worcesterdam versprei, het die span ­siwwe voor die pype, wat water daarin voer, aangebring. Die siwwe dra ook by om te verhoed dat dit versprei terwyl dit water suiwer deur watervloei te vertraag, wat toelaat dat sediment afsak en oortollige fosfate absorbeer.

Die munisipaliteit besef die dam se hoë sigbaarheid vir inwoners en besoekers aan die nabygeleë winkelsentrum en verstaan inwoners se kommer oor die toestand. Hulle ondersoek die moontlikheid om ‘n eksterne kontrakteur aan te stel vir verdere skoonmaakaksies, wat gespesialiseerde hulpbronne kan ontplooi terwyl interne spanne nie van ander noodsaaklike werk weggehou word nie.

Die munisipaliteit hou die situasie fyn dop en sal bykomende stappe neem indien nodig.

Die plantegroei is so dig dat die water glad nie sigbaar is nie. Selfs kiewiete loop op die water.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article