Cyril Visagie (links) tree ná 38 jaar uit die brandweerdiens. Foto:


Ná skool wou hy hom as onderwyser bekwaam. Toe dié beroep hom nie beskore is nie, toe probeer hy tevergeefs die gevangenisdiens.

Min het hy geweet dat ’n plek in die brandweerdiens eintlik lank reeds vir hom uitgesit is.

Vandag (31 Oktober), ná 38 jaar getroue diens, tree Cyril Visagie (61), ’n senior brandbestryder van Worcester, amptelik uit die brandweerdiens.

Visagie sê aan Standard Breederivier Gazette hy wou hom ná skool as onderwyser bekwaam, maar sy ouers, Willem en Wilhelmiena Visagie, se finansiële omstandighede het dit nie toegelaat nie.

Volgens hom het hy toe vir ’n bietjie langer as ’n jaar as handlanger by V&S Konstruksie gewerk en hierna ’n jaar by Hextex.

Hy het daarna by die destydse Worcester Stationery ingeval en vir sowat ’n jaar en drie maande as stoorman by Shoprite in Russellstraat gewerk.

Volgens Visagie het hy vriende gehad wat as meterlesers by die destydse Worcester-munisipaliteit gewerk het.

“Ek het altyd vir hulle gesê om my te laat weet as daar werk by die munisipaliteit is. Een Donderdagaand in September 1987 toe laat weet een van hulle my die munisipaliteit soek brandweermanne.”

Visagie sê die volgende oggend douvoordag toe staan hy voor die munisipale gebou. Ná ’n IK-toets, ’n rits fiksheidstoetse en ’n onderhoud was die werk syne.

Volgens Visagie was hy baie fiks omdat hy in daardie stadium vir Worcester Villagers rugby gespeel het.

Hy het in November 1987 hy uiteindelik sy nuwe werk as junior leerling-brandbestryder begin.

“Die gevoel was oorweldigend.”

Visagie raak emosioneel en die trane skiet in sy oë wanneer hy vertel van hoe trots en opgewonde sy ouers oor dié nuwe hoofstuk in sy lewe was.

Hy sê ’n week nadat hy die goeie nuus met sy ouers gedeel het, het hulle verneem sy pa het kanker.

Visagie sê dit was maar rof toe hy amptelik as brandweer­man begin werk het. “Dit was toe nog die apartheids­jare, dus was daar baie druk op my om myself te bewys.

“Ek het in ’n stadium begin twyfel en gewonder of dié werk werklik vir my is. Dit was erg, maar die Here, my familie en vriende het my deurgedra.”

Visagie sê die eerste groot brandvoorval wat hy moes bywoon, was op 24 Desember 1987 toe ’n informele struktuur langs die Ou Aan De Doornspad tot op die grond afgebrand het.

“Die man en vrou wat in die hok gewoon het, het albei doodgebrand. Ons moes die lyke uitdra. Dit was erg. Ek onthou dit nog soos gister.

“In dié werk sien jy baie dinge, maar ’n mens moet maar ’n manier vind om dit te verwerk.”

Hy sê nog iets wat hom vir altyd sal bybly, is toe ’n vragmotor destyds – in latere jare ook op Oukersdag – teen ’n voertuig vol kleuterskoolkinders op pad na ’n Kerspartytjie in De Doorns, vasgery het.

Visagie sê sowat agt kinders het in daardie ongeluk gesterf.

“Daar was ambulanspersoneel op die toneel wat geknak het en ons moes hulle ook bystaan.

“Ek self was baie emosioneel, want daardie tyd dink jy aan jou familie en kinders.”

Volgens hom was hy ook een van die brandweermanne wat gaan hand bysit het toe ’n bom op Oukersdag in 1996 by Shoprite in Russellstraat in Worcester ontplof het.

Visagie sê dit was altyd ’n lekker gevoel wanneer jy iemand wat in ’n noodsituasie was, na veiligheid kon bring.

“Daardie kameraadskap wat ons as brandweermanne oor die jare opgebou het, is ook nie iets wat jy sommer maklik vergeet nie.”

Volgens Visagie is hy tot vandag toe nie spyt hy het by die brandweerdiens aangesluit nie.

Hy sê om ’n brandbestryder te wees, is ’n roeping.

Volgens hom is sy jongste seun, Cameron, besig om in sy voetspore te volg. Hy is ook ’n brandweerman en is in Ceres gestasioneer.

Visagie sê noudat hy die brandweerdiens vaarwel toegeroep het, gaan hy ’n bietjie bouwerk doen en meer tyd saam met sy gesin en familie deurbring.

“Dankie aan my gesin en my kollegas. Die grootste dank gaan aan ons Hemelse Meester, want as dit nie vir Hom was nie, waar sou ek tog vandag gewees het?”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article