Kragbesparing is sekerlik vandag een van die grootste besprekingspunte in Suid-Afrika weens die ongerief, verliese en krisisse wat beurtkrag veroorsaak.

Maar ’n boer maak ’n plan. Só het Brandvlei Kelder reeds twee jaar gelede begin om planne vir herwinbare krag in werking te stel. Deskundiges is aangesê om ’n sonkrag-opwekker van formaat te installeer. Die planne, wat die oprigting van ’n nuwe stoor ingesluit het, het voorsiening gemaak vir sonpanele wat die hele eenkant van die stoor se noordoostelike dak sal dek.

In die bouplanne is voorsiening gemaak vir die dak se versterking om die ekstra gewig van die sonpanele te dra. ’n Sistematiese proses is gevolg waarin Eskom volledig geken is sodat alles wetlik korrek is. Doug Young van Electric Assemblies, het die PV Solar-sonpanele, ook bekend as PV Grid Tie system, met behulp van Graham Cursons, ’n raadgewende elektriese ingenieur, binne twee maande opgerig. ’n Rekenaarskerm in die kelder toon hoeveel energie elke oomblik deur die sonpanele opgewek word. Daar kan duidelik gesien word wanneer ’n digte wolk voor die son inskuif hoe die panele se krag-inname verminder.

Die hoofdoel van die panele is om krag te bespaar. Die oortollige energie kan egter nie na Eskom teruggevoer word nie aangesien Suid-Afrika se energiestelsel nog nie ’n veilige manier het om dit te doen nie.

Die sonpanele wat gebruik is, bied ’n tien jaar-waarborg en het ’n leeftyd van tussen 25 en 30 jaar. Die koste is redelik hoog, maar die terugbetaling daarvan is bereken op net meer as vyf jaar voordat dit bykans kosteloos verder krag sal voorsien. ’n Watch Dog-program is ook geïnstalleer om te keer dat energie deurvloei na Eskom se lyne. Eskom word egter nie uitgesluit nie en verskaf nog steeds 1000 kVA krag aan die kelder en met die hulp van die PV Solar-paneel wat omtrent 124,4 kVA verskaf, betaal die kelder net die verskil aan Eskom.

Sonenergie beteken die afwesigheid van besoedeling en sonenergie is ook gratis. Dit kan gebruik word solank die son skyn!

Oor die langtermyn is die PV Solar ’n groot besparing en die kelder weet, met die son aan hul kant, gaan hulle nog lank uitstekende wyn maak!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article