'n Geakkrediteerde vaardigheidsoplei­dingsprogram is by die Branvlei-korrektiewe dienste bekend gestel.
Andile Nelani, die kommissaris van die Brandvlei-bestuursgebied (vierde van regs) by die onderskeie rolspelers.

Gevangenes by die Brandvlei-korrektiewe dienste en die Worcester-vrouegevangenis is opnuut hoop gegee toe ‘n geakkrediteerde vaardigheidsoplei­dingsprogram verlede week Woensdag (6 Augustus) amptelik by Brandvlei bekendgestel is.

Belanghebbendes wat by die program ingekoop het om dit ‘n werklikheid vir die gevangenes te maak, het ook die bekendstelling bygewoon.

Hulle is Vineyard Academy, Phila Jordan Academy, M163P-SP Academy, Small Enterprise Development and Finance Agency (SEDFA), Imvumelwano Civils and Construction, Eleki Foundation, Art-in-Carceration, BRM Management Solutions en Nitor Consulting.

Die geleentheid is ook deur gevangenes wat aan die program deelneem, bygewoon.

Andile Nelani, kommissaris van die Brandvlei-bestuursgebied, het op die ge­leent­heid gesê “die visie van ‘n vaardig­heids­revolusie by Brandvlei word ‘n werklikheid”.

“Ons wil seker maak dat elke vaardig­heid wat julle hier aanleer, sal verhoed dat julle eendag sonder werk sit. Ons wil julle voorberei sodat julle as wetsgehoorsame burgers met ‘n maatskaplike verantwoordelikheid in die samelewing moet uitgaan om jul regmatige plek in te neem en die pro­sesse van werkskepping op jul eie te lei.”

Nelani het voorts aan die gevangenes gesê dat hulle nou globaal moet dink. Volgens hom sal die geakkrediteerde program vir hulle deure oopmaak sodat hulle by enige plek in die wêreld kan inskakel.

“Julle moet wêreldburgers wees. Onthou, ons loods nie sommer enige vaardigheid nie, maar ‘n geakkrediteerde vaardigheid.”

Nelani het gesê hulle moenie dink dat ‘n spesiale ingryping van vaardigheidsont­wikkeling vir hulle voorberei is omdat hul­le lede van ‘n sogenaamde ‘ander gemeenskap’ is nie.

“Nee, julle doen presies wat mense daar- buite doen. Ons wil almal van julle wat hier sit, motiveer. Ons wil daardie uit-die-tronk- en dan weer terug-in-die-tronk-tendens beveg. Ons wil mense skep wat permanent uit hierdie instelling vrygelaat word omdat ‘n alternatief beskikbaar is.”

Rosemary Cloete, die gebiedskoör­di­neer­­der vir ontwikkeling en versorging, waaronder onderwys en opleiding val, het op haar beurt gesê: “Wanneer ons van rehabi­litasie praat, praat ons van vaardigheids­ontwikkeling.

“Vandag is ‘n belangrike mylpaal in die Brandvlei-bestuursgebied. Die program het ten doel om julle te bemagtig met die vaardighede en bevoegdhede wat nodig is vir julle om suksesvol te wees wanneer julle hierdie plek verlaat en te herintegreer in die gemeenskap waar julle vandaan kom. Vaardigheidsontwikkeling is ‘n deurslaggewende aspek van rehabilitasie vir ons leerders.”

Volgens Cloete dui studies daarop dat oortreders wat aan vaardigheidsontwikkelingsprogramme deelneem, minder geneig is om weer met die gereg te bots omdat hierdie programme hulle weer rigting in hul lewe gee.

“Die vaardighede wat julle hier aanleer en wat in groot aanvraag is, verhoog jul kans om in diens geneem te word wanneer julle by die gemeenskap herintegreer word.”

Volgens Denovan Phillips, bestuurder vir onderwys en opleiding by Brandvlei, het die gevangenis ‘n operasionele ooreenkoms met Northlink College gesluit om oplei-

ding aan gevangenes en mense uit die gemeenskap te gee. Hy sê die opleiding van 70 mense uit die gemeenskap in skrynwerk en messelary (baksteen-lê) begin eersdaags.

Jolene Samuels, direkteur van Vineyard Academy, sê haar akademie is besig om gevangenes sakevaardighede te leer.

Vineyard Academy is toegewy aan die bemagtiging van jeugdiges en onlangse skoolverlaters deur omvattende ontwikke­lingsprogramme wat Christelik-gebaseerde morele integriteit, persoonlike ontwikke­ling, vaardigheids- ontwikkeling en gemeenskapsbetrokkenheid bevorder.

Volgens Samuels sal 40 studente volgende maand opleiding in landbou ontvang.

Phila Jordan, die voorsitter van Phila Jordan Capital, ‘n Suid-Afrikaanse organisasie wat op vaardigheidsontwikkeling en -opleiding in veral ambagte en rehabilitasie deur vaardigheidsprogramme vir oud-oortreders fokus, het onderneem om in die afsienbare toekoms ‘n Innovasie- en Tegno-

logie-sentrum by die Brandvlei-gevangenis tot stand te bring.

Intussen het Palesa Segano, die hoof van SA Meats, onderneem dat haar organisasie binnekort opleiding in slagplaasbedrywig­hede, slagprosesse en vleisklassifikasie vir gevangenes gaan aanbied.

Gevangenes sal ook opleiding in onder meer vleis-higiëne ontvang. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article