Daar is tans verskeie brande wat woed in die streek en brandweerdienste veg al sedert Dinsdag (6 Desember) onverpoos om dit onder beheer te bring.
Dit is nog onseker wat die oorsaak van die brande is.
“Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit (KWDM) se brandweerdienste kan bevestig dat spanne tans drie (3) brande in die distrik bestry,” het woordvoerder van KWDM, Jo-Anne Otto, aan Standard gesê.
Brandvlei, Worcester
’n Brand wat Dinsdag uitgebreek het in die Brandvlei-area het gesorg dat talle brandweerpersoneel van beide die distriksmunisipaliteit, sowel as die Breedevallei-munisipaliteit hul toespits om die brand te bestry. Helikopters is ook ingeroep en teen middernag (Woensdag 7 Desember) het dit geblyk of die brand dalk na ’n einde se kant toe staan. Die teendeel is egter die realiteit.
“Brandweerspanne het ‘n uitdagende dag gehad vandag (Woensdag 7 November) na die brand tydens etenstyd weer opgevlam het. Dit is veroorsaak deur sterk wisselvallige winde wat vlamme na ander gebiede aangevuur het en veroorsaak het dat die vuur weer buite beheer brand,” het Otto bygevoeg.
Sy het wel bevestig dat helikopters en addisionele brandbestryders ontplooi is.
“Ten spyte van die uitdagings soos die moeilike terrein, warm weer en winderige toestande, is goeie vordering gemaak. Spanne sal heel waarskynlik voortgaan met aktiewe brandbestrydingsaktiwiteite deur die nag.”
Helikopters is ook verder ontplooi na die Prins Alfred Hamlet (PA Hamlet) area in die Witzenberg-streek.
Fase 4, PA Hamlet
Die spanne van die KWDM se Ceres-kantoor het gereageer op ’n brand agter ’n area genaamd, Fase 4, in die dorp PA Hamlet buite Ceres.
“Helikopters sal hierdie brand bestry tot dat dit onder beheer gebring kan word. Daar is tans twee brandweervoertuie en bemanning van die KWDM, een groep grond-bemanning van tien lede, twee helikopters en twee voertuie met bemanning van Witzenberg-munisipaliteit.”
Spanne is hoopvol dat hulle die brand later vanaand onder beheer sal bring, maar maak gereed om deur die nag te werk indien nodig.
Robertson en Ashton, Langeberg
Die span van die KWDM in Robertson het gereageer op ‘n brand in die veld agter Nqubela in Robertson.
Hulle het saam met brandspanne van Langeberg-munisipaliteit die brand suksesvol onder beheer gebring. Die grondspanne het daarin geslaag om die grond te demp, voordat hulle vanmiddag (7 Desember) om 13:00 na ’n tweede brand in Ashton ontplooi is.
“Die Ashton-brand is naby Ashton se groot fabriek en die spoorlyn naby die rivier. Verskeie spanne van die KWDM en Langeberg Brandweerdienste het gereageer. Op hierdie stadium is geen verdere verslae in hierdie verband beskikbaar nie. Brandbestryders, grondspanne en vlieëniers werk baie lang ure om hierdie brande onder beheer te bring, ons bid vir hul veiligheid gedurende die nag,” het Otto bygevoeg.





