Dutoitskloof het hierdie week die soveelste keer vlamgevat.
Die gebied word sedert November erg deur veelvuldige brande geteister. Die mees onlangse brand het Dinsdagmiddag naby die Dutoitskloof Lodge ontstaan.
“Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se branddienste, in samewerking met die brandbeskermingsvereniging (BBV) en CapeNature, kan bevestig dat hulle ontplooi is na ’n brand in die Dutoitskloofpas, oorkant die Du Kloof-hotel,” het Jo-Anne Otto, ’n woordvoerder van die KWDM, Dinsdag in ’n verklaring gesê.
Die brand het deur die nag gewoed en Woensdagoggend is nog spanne gestuur om te brand te help bestry. Die brand het ook verder in die rigting van die tonnel gebrand.
“Die brand, wat oorkant die Du Kloof-hotel ontstaan het, het tot in die kranse in die rigting van die Hugenotetonnel gebrand. Daar is tans sewe brandbestrydingsvoertuie en bemanning en drie grondspanne van die BBV en Cape Nature,” het Otto in ’n opdatering voor 06:00 Woensdagoggend gesê.
Net voor 10:00 Woensdagoggend het Otto gesê nog ekstra spanne is gestuur om met die brand te help.
Die Dutoitskloof Lodge is tot dusver nie as gevolg van die brand beskadig nie.





