Die bouval in Durbanstraat, geleë reg langs Pick n Pay Local en oorkant die masjied, is deesdae blykbaar die tuiste van bendes en dwelmsmouse en hou ’n gevaar in vir mense wat naby parkeer of daar verbyloop. Foto: Dominique Jeftha


’n Bouval in Durbanstraat, waar allerhande soorte ongerymdhede plaasvind, word nou ’n groot kopsorg vir omliggende ondernemings en organisasies.

Volgens Awamodien Karriem van die masjied in Durbanstraat het die bouval nou ’n broeiplek geword vir bendebedrywighede, dwelmhandel en prostitusie.

Die masjied is reg oorkant die bouval geleë.

Karriem sê hulle het nou genoeg gehad en sê amptenare moet dadelik ingryp voordat die probleem groter word.

“’n Mens sien elke dag ongerymdhede wat hier oorkant aangaan. Mense word beroof en uitgevloek; daagliks trek hier mense in. Die gebou het nie elektrisiteit nie ook nie water nie,” sê Karriem.

Die polisie word gereeld na die gebou ontbied.

Volgens Shaheen Bergh bly mense nou weg van die masjied uit vrees vir hul veiligheid. Hy sê besoekers aan die masjied se voertuie is al menigte kere beskadig.

“Soms sien die mense hulle ruite is uitgeslaan of wiele stukkend gesteek,” sê Bergh.

Karriem sê hulle het nou genoeg gehad en doen ’n beroep op inwoners en diegene wat deur die misdrywe geraak word, om Vrydag 25 Maart by hulle aan te sluit wanneer hulle hul misnoeë oor wat besig is om by die bouval te gebeur, gaan uitspreek. Die groep sal op dié Vrydag om 13:30 oorstap na die gebou.

Standard het saam met Karriem en Bergh besoek by die bouval afgelê, en met ons aankoms kon ons sien hoe mense dwelms gebruik.

Die bouval is plek-plek sonder dak en word tans deur verskeie mense beset.

Kol. Willis Smith van die polisie het aan Standard gesê die eienaar van die gebou is al talle kere gekontak.

Navraag is aan die BVM gestuur en amptenare het onderneem om so spoedig moontlik te antwoord. Dit sal gepubliseer word sodra dit ontvang word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article