‘n Tweede persoon is dood ná die tragiese botsing Vrydagoggend (23 Mei) by die Overhex-kruising buite Worcester.
‘n Vrou en drie kinders is op die toneel dood nadat ‘n Mercedes-Benz-vragmotor en ‘n Toyota-minibus, wat ‘n waentjie gesleep het, gebots het. Die ongeluk het omstreeks 06:40 in mistige en donker omstandighede gebeur. Die minibus het vermoedelik nie by die stopteken stilgehou nie, het AO Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie gesê. Die vragmotor het voorrang op die R60/Robertson-pad gehad.
Nóg ‘n vrou is in die Worcester-hospitaal dood. Volgens Jacobs het die minibus 18 insittendes gehad, van wie drie kinders was. Die oorlewende insittendes is almal hospitaal toe geneem, behalwe vir een man wat behandeling geweier het.
Die bestuurder van die vragmotor is ongedeerd. Hy het sy volle samewerking op die ongelukstoneel aan die polisie gegee.
Die vragmotor het meters ver van die minibus af in ‘n stuk veld tot stilstand gekom nadat dit deur ‘n grensdraad gebars het.
Vanaf Oos-Kaap na Hermanus
Die erg beskadigde minibus, wat ‘n sleepwaentjie met ‘n Oos-Kaapse registrasie-nommer gesleep het, was glo van die Oos-Kaap na Hermanus op pad. Geen verdere inligting oor die beseerdes is bekend nie.
Omstanders het gesê die buurtwag was baie vinnig op die toneel om die verkeer te reël en verdere botsings te voorkom.
Twee vroue het stilgehou en gekyk of hulle die passasiers kon help terwyl almal op die nooddienste gewag het.
Zandré Biko, wat in ‘n huis reg langs die Robertson-pad woon, het gesê hy het die slag gehoor en onmiddellik geweet dit was ‘n botsing.
“ ’n Mens hou asem op elke keer as jy ‘n slag hoor. Ek is al te bang om uit te gaan,” het hy gesê. Die kruising is blykbaar al lank ‘n probleem. Die 56-jarige Christiaan du Toit het op 11 April op dieselfde plek in ‘n botsing hier gesterf.
“Dit is ‘n lang, reguit stuk pad van Robertson af en die bestuurders dink dit is veilig om spoed te vermeerder. Hulle besef nie daar is ‘n kruising nie. Ek dink spoedbeperkings en ligte by die kruising kan verhinder dat botsings so gereeld by hierdie kruising gebeur,” het Biko gesê.
Die Worcester-polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.







