Die verhoor van drie beskuldigdes, wat van die moord op dr. Roelof Botha (59), ’n algemene praktisyn van Tulbagh, aangekla is, gaan ná ’n lang oponthoud uiteindelik in Oktober hervat word.
Botha se liggaam is op 1 Junie 2020 op die Schalkenboschpad buite Tulbagh met verskeie steekwonde gevind. Hy is ook van ’n haelgeweer en ammunisie beroof.
Vier verdagtes is hierna in hegtenis geneem, maar een van hulle, Desire Goeieman, is in Januarie vrygelaat nadat die staat die aanklagte teen haar laat vaar het.
Goeieman tree tans as staatsgetuie op. Die ander drie beskuldigdes – Aiden Abels (27), Justin Adonis (30) en Andrew Gouws (30) – is sedert hul inhegtenisneming in aanhouding. Abels het glo in ’n bekentenis gesê hy het Botha vermoor deur ’n skaapskêr te gebruik.
Die drie verskyn op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Die saak het drie jaar lank gesloer weens regsverteenwoordigers wat aangestel moes word en Regshulp SA wat nie vinnig genoeg regshulp aangebied het nie.
Ná die oponthoud oor regshulp is die saak voorlopig op die Kaapse hooggeregshof se hofrol vir Oktober geplaas nadat Regshulp SA aangedui het hy kan weens ’n tekort aan geld nie vir die hofverrigtinge na die Worcester-hof pendel nie.
– Saamgestel deur Jana Scheeepers



