Die uitnemendheid en besonderse gehalte van cabernet sauvignon en chenin blanc uit die Bonnievale-wynvallei is onlangs opnuut weer bevestig in een van die land se voorste wynkompetisies.
Bonnievale Wines was vanjaar onder die ontvangers van die hoogste puntetellings by die gesogte Michelangelo- internasionale Wyn-en-Spiritualieë-kompetisie toe die beoordelaars ’n dubbelgoue medalje aan die kelder se Bonnievale The River Collection Chenin Blanc 2023 sowel as die Bonnievale Limited Release Cabernet Sauvignon 2021 toegeken het.
’n Dubbelgoue medalje in die kompetisie verteenwoordig ’n punt van 93 of meer uit ’n moontlike 100 punte.
Daarmee saam bevind Bonnievale Wines hom ook in uitgesoekte geselskap as deel van die slegs 12,8% van die altesaam 1 555 inskrywings wat vanjaar dubbelgoud verower het.
Die Michelangelo-pryse, nou in sy 27ste jaar, is Afrika se grootste kompetisie vir wyn en spiritus.
Die beoordelaars is wynkenners uit vyf vastelande oor die wêreld heen.
Die wyse waarop Bonnievale Wines se wenwyne in die Michelangelo-pryse uitgestyg het, is net weer ’n bewys van watter wêreldklasgehalte sy wyne oor alle pryspunte en variëteite heen bied.
“Hierdie pryse dien vir ons hoofsaaklik net as erkenning vir die vertroue, sorg en toewyding wat ons wyndruifprodusente oor baie geslagte heen in gehalte belê het,” sê Marthinus Rademeyer, die hoofwynmaker.
“Jy kan slegs uitsonderlike wyn van uitstekende wyndruiwe maak – net soos die Michelangelo-pryse bewys het.”
Bonnievale se twee wenwyne het ook vanjaar op ander vooraanstaande wynskoue en in kompetisies met die louere vir uitmuntende gehalte weggestap.
Die Bonnievale Limited Release Cabernet Sauvignon 2021 het goud in die eerste Cabernet Sauvignon Challenge losgeslaan, en is daarmee saam ook as een van die top-100 wyne in die 2023 National Wine Challenge (NWC) aangewys.
Dit was ook die tweede keer agtereenvolgens dat die NWC-beoordelaars hierdie beperkte oplaag cabernet sauvignon met ’n dubbele platinum vereer.
The River Collection Chenin Blanc 2023 het onder meer weer goud by die Gilbert & Gaillard International Challenge ontvang – dit terwyl Michael Fridjhon, een van die mees invloedryke wynkommentators in die wêreld, hierdie wyn met vyf sterre in die afdeling vir wyne met die algehele beste waarde bekroon het.
Kern van ’n kampioen – Limited Release Cabernet Sauvignon:
Bonnievale is as wynverbouingsgebied bekend vir sy topgehalte- cabernet sauvignon-druiwe.
Baie van die wynkelders oor die Kaapse Wynland heen gebruik hierdie druiwe in hul eie wyne.





