’n Oud-Worcesteriet wat die afgelope 18 jaar in Duitsland woon, is onlangs verkies tot die paneel van die Wêreldkoorspele. wat vanjaar in Suid-Korea aangebied word.
Hannes Wessels (58), ’n apteker wat sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Worcester (nou bekend as Worcester Gimnasium) voltooi het, het Worcester in 1983 verlaat om ’n graad in aptekerswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) te voltooi.
“Die US het baie deure vir my oopgemaak. Ek het die geleentheid gekry om ’n gedeelte van my meesterskursus in Duitsland deur te bring en kon deur my omswerwinge hier mense ontmoet wat die weg vir my oopgemaak het om vandag daar te kan woon en werk. Ek was ook deel van die US se koor en het myself later as assistent-dirigent verder bekwaam,” vertel Wessels aan Standard.
Sowat twee dekades gelede, nadat hy vir ’n kort ruk in die Kaap as ’n navorser gewerk het, kon Wessels daarin slaag om ’n aanstelling by die GSK-groep in Duitsland te kry en werk sedertdien by dié maatskappy.
Wessels probeer om Worcester minstens twee maal per jaar te besoek.
“My ma is in die tehuis en my suster woon in Rawsonville. Ek probeer gereeld hier uitkom, en dit is altyd lekker om terug te wees in die Boland. Dit herlaai jou siel.”
Sy passie vir musiek is ook danksy die blootstelling aan musiek wat hy in sy tuisdorp gekry het.
“Musiek is vir my sinoniem met die Boland. Soveel goeie kunstenaars kom van hier en musiek het op skool ’n belangrike rol in my lewe gespeel. Baie mense dink aan die Boland en dink aan die berge en goeie wyn – ek gee toe, dit is darem maar ’n trekpleister – maar musiek is vir my die Boland,” voeg hy by.
Wessels en sy vrou, Inge, het in Duitsland ontmoet en is albei versot op klassieke musiek.
“Ons het in Düsseldorf, die dorp waar ons albei woon en werk, ontmoet. Sy is van Nederland en is ’n beeldhouer. Ons albei het kooroudisies by ’n plaaslike koor bygewoon en aan die gesels geraak. Ons is nou nog ná amper 20 jaar steeds by die koor betrokke.”
Wessels, ’n bariton, het sowat vier jaar gelede die leisels as voorsitter oorgeneem en help om die musiek te vervaardig en die bladmusiek te interpreteer om die meeste uit die koor te kry.
“Die Via-Nova-koor is ons tweede huis. Ons reis gereeld deur Europa as ons die kans kry en het al paar keer aan die Koorspele deelgeneem. Ons het met twee ander groepe in ons streek saamgesmelt en in 2009 ’n tweede plek behaal.”
Wessels het sowat ses jaar gelede ’n prys gewen vir ’n stuk wat hy saam met Neels Beenhouwer vervaardig het.
“Neels is ons maestro en weet alles van musiek. Hy het die kennis en ek het ’n aanvoeling daarvoor. Ons het al ons stukke self vervaardig en wou iets nuut ten toon stel. Toe word ons stom gelaat toe ek en hy die prys vir die mees innoverende komposisies wen.”
Hy sê sy beroep hou hom geweldig besig, maar vir musiek het hy altyd tyd. Hy het gedurende Covid-19 verskeie kore gehelp deur kort kursusse via die internet aan te bied.
“Die paneel van die Wêreldkoorspele het my in Januarie gekontak en gevra of ek nie die paneel as ’n addisionele lid wil bystaan nie. Ek was verstom. Ek het sonder huiwering ingestem.”
Die Wêreldkoorspele is gebaseer op die Olimpiese ideale, wat daarop gemik is om mense en nasies wat deur sang verbind is, vreedsaam in ’n regverdige kompetisie te verenig.
Verskeie lande neem deel.
Die Koorspele is vier jaar gelede ook in Suid-Afrika aangebied.
Vanjaar sal die spele in Julie in Suid-Korea plaasvind.
“Dit gaan ’n belewenis wees. Ek sien geweldig uit daarna. Ek gaan nie vanjaar sing nie en het besluit om eers nie musiek te vervaardig nie. Ek los dit in Neels se bekwame hande. Ek moet regverdig wees,” sê Wessels.


