Heinrich Arendse van Worcester ontduik ’n regte­r­swaaihou van Prendell Crouwcamp van Montagu in hul supermiddelgewig-boksgeveg.Foto: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

MONTAGU – Geskiedenis is Saterdag 30 April gemaak toe ’n bokstoernooi vir die eerste keer in die dorp gehou is.

Die Montagu-bokstoernooi, wat op die terrein van W.A. Rossouw Primêre skool gehou is, was die geesteskind van Roscoe Pekeur. Volgens Pekeur, wat ook die organiseerder van hierdie geskiedkundige gebeurtenis is, is die toernooi moontlik gemaak deur verskeie borge en donateurs wat hy genader het en hy spreek sy opregte dank teenoor elkeen van hulle uit.

Van die beplande agt gevegte wat aanvanklik op die program was, het ses plaasgevind. Van die deelnemers was om verskeie redes nie meer beskikbaar nie.

In die hoofgeveg van die dag, die supermiddelgewig-afdeling, het die plaaslike bokser, Prendell Crouwcamp, onder luide aanmoediging van familie, vriende en ondersteuners kragte gemeet met Heinrich Arendse van Worcester, wie se ondersteuners hom ewe geesdriftig aangespoor het.

Crouwcamp was van die eerste ronde af die meer aggressiewe bokser van die twee. Hy het Arendse in die kryt laat bontstaan. In die derde en laaste ronde van die geveg het hy die Worcesteriet in sy eie hoek vasgekeer en na willekeur gemoker.

Arendse was feitlik op sy voete uit en nie in staat om terug te slaan nie. Theo Modise, die skeidsregter, het tussenbeide getree en die geveg gestop, waarna Crouwcamp as die wenner gekroon is.

Net voor die hoofgeveg het Cleve Williams, ’n plaaslike liggaamsbouer en gimnasium-eienaar, ’n vertoning gelewer as deel van die dag se verrigtinge.

Uitslae van die ander gevegte was soos volg:Swaargewig:. Eroni Smit (Worcester) wen met punte teen Lance Marthinus (Montagu). Telling was 86-85.. Enrick Dampies klop Taine-Randell Booysen met punte. Die telling was 87-85. Albei boksers is van Montagu.. Manwill Williams (Montagu) wen teen Frank Wagenstroom (Uitsig). Die beoor­de­laars was verdeeld aan die einde van dié geveg. Twee het in Williams se guns beslis, terwyl die derde beoordelaar die geveg aan Wagenstroom toegeken het. Ligswaar:. Calum Lawrence klop sy dorpsgenoot Gregg Lennert met punte. Die telling was 88-84. Albei is van Worcester.o.19-amateur-afdeling: . Renaldo Fredericks het teen Garnet McThomas geboks. Fredericks is deur die skeidsregter Theo Modise as die wenner aangewys nadat die beoordelaars die geveg gelykop beoordeel het. Die tellings aan die einde van die drie rondes was 85-85. Albei boksers is van Worcester.

Pekeur is baie optimisties oor die toekoms van boks in die Langeberg­streek en beskou die aanbieding van die hierdie toernooi as ’n groot sukses.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article