Die Worcester Victorians- Blinde krieketspan het Sondag 26 Februarie in ’n T20-wedstryd teen The League of Friends of the Blind (Lofob) gespeel.
Lofob het die loot gewen en Worcester ingestuur om te kolf.
Die Victorians het in hul 20 toegelate boulbeurte 164 lopies vir die verlies van drie paaltjies aangeteken.
Worcester se twee topkolwers was Ralton Pienaar (62) en Jermain Collins (32 nie uit nie).
Lofob se kolfbeurt het wankelrig begin met 8-2 ná twee boulbeurte. Die span is almal vir 123 lopies ná 19 boulbeurte uitgeboul.
Ralton Pienaar het weer uitgeblink – dié keer met die bal in die hand. Hy het slegs 18 lopies in sy vier boulbeurte afgestaan en vier paaltjies geneem.
Worcester se kaptein, Allanzo Mapoe, het ’n baie ekonomiese vier boulbeurte vir slegs 11 lopies en een paaltjie afgestuur. Edrich ter Haar het twee paaltjies geneem.
Die Victorians het die wedstryd met 41 lopies gewen en is steeds onoorwonne in 2023.. Worcester kom Sondag (5 Maart) op Esselenpark teen Van der Stel te staan vir hul laaste wedstryd vir die seisoen.
Hopelik kan hulle die seisoen op ’n hoë noot afsluit en so ook die liga wen.




