Jy dobbel met jou toekoms. Dié boodskap is die afgelope week aan hoërskoolleerders in Worcester en ander skole in die omgewing gegee deur ‘n span van die Suid-Afrikaanse Stigting vir Verantwoordelike Dobbelary (SAFRG).
Dit kan so onskuldig begin soos ‘n speletjie bingo of die spin van ‘n muntstuk, het Tumelo Mokoena van SAFRG die leerders as deel van die inisiatief “Taking Risks Wisely” gewaarsku.
Dié blootstelling gebeur gewoonlik in ‘n omgewing waar die kinders speel – soms selfs by die huis. Dit kan gebeur deur kaartspel, dobbelmasjiene wat by winkels staan, of deur dobbelsteentjies te rol met iets wat waarde het, op die spel. “Die brein van ‘n 13- tot 16-jarige kind is baie meer vatbaar om van hierdie soort gedrag afhanklik te raak omdat hulle meer geneig is om kanse te waag,” het Mokoena verduidelik. “As jy jou oë uitvee, is dit al waaraan jy kan dink of wat jy wil doen.”
Dié soort gedrag beïnvloed ook volwassenes – soms in so ‘n mate dat hul gesinslewe daardeur geraak word. Kosgeld kan vir dobbel gebruik word, of dit kan ‘n ouer se lewe só oorneem dat hy of sy hul ouerlike pligte versuim.
Dobbel is onwettig vir onder-18’s.

Die stigting bied gratis behandeling en berading aan vir mense wat deur dobbel-afhanklikheid geraak word. Mokoena en haar span het die leerders aangemoedig om vir hulp aan te klop as hulle of iemand in hul gesin van dobbel afhanklik raak deur die tolvrye nommer 0800 006 008 te skakel of ‘n WhatsApp met “Help” na 076 675 0710 te stuur.
• Die nasionale dobbelstatistieke vir 2024 skets ‘n prentjie van hoe gewild dobbel in Suid-Afrika is. Aan die einde van die 2023-’24-boekjaar is R1,1 miljard aan dobbel bestee – 40,2% meer as die vorige jaar.
Die Wes-Kaap het by Gauteng as die grootste dobbelmark oorgeneem met 31,7% van die markaandeel. Gauteng (22,1%) en Mpumalanga (21.9%) se markaandeel is bykans ewe groot.
“Verskeie faktore het daartoe bygedra dat minderjariges dobbel,” het Sibongile Simelane-Quntana, die uitvoerende direkteur van SARGF, gesê. “Groepsdruk, toegang tot onwettige dobbel, blootstelling aan ‘n dobbelkultuur en die normalisering van riskante gedrag speel alles ‘n rol daarin om jong mense by dobbel te betrek.”





You must be logged in to post a comment.