Chrisma Slaghuis in Hoogstraat het onlangs noodgedwonge sy deure gesluit weens die impak van onder meer beurtkrag.

Credit: SYSTEM

Worcester se bekende en geliefde Chrisma Slaghuis het aangekondig dat hy onmiddellik sy deure sal moet sluit weens talle uitdagings wat die besigheid gekniehalter het.

Verlede week het skokgolwe deur die dorp gevloei toe die eienaar van hierdie slaghuis op sosiale media ’n videoboodskap aan die gemeenskap gerig het om die tragiese nuus te deel.

Neil Erasmus, wat in 2010 die slaghuis oorgeneem het as eienaar, het dit in die boodskap gestel dat finansiële uitdagings weens verskeie faktore bygedra het tot hierdie besluit.

“Ons is dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning en dankbaar vir ons wonderlike personeel, maar ons sal in die volgende week ons deur ongelukkig moet sluit. Dit was beslis nie ’n maklike besluit nie, maar ons het bloot nie ’n keuse nie,” sê Erasmus.

Hy vertel aan Standard dat Covid-19 die eerste spyker in die doodskis was.

“Vir die eerste twee maande gedurende die grendeltydperk het dit goed gegaan. Mense het paniekaankope gedoen vir die onbekende en om voor te berei op die ergste.

“Daarna het besigheid geweldig afgeneem en ons het baie swaar getrek. Ons moes omtrent planne maak om kop bo water te hou en met die Here se genade en ons span se bystand kon ons weer op ’n plek kom waar ons finansies gestabiliseer het. Niks was ooit eintlik weer dieselfde nie.”

Hy vertel aan Standard dat hy en sy span elke oggend die dag met gebed begin en dan sal hulle ’n stukkie uit die Bybel lees, waarna die dag se orde-reëlings deurgegee word en ernstige sake bespreek word.

“Ek het heeltyd oop kaarte gespeel met my span en ons het saam die wa deur die drif probeer kry. Hulle het selfs skuiftyd begin werk, omdat ons planne moes maak. Almal het hul deel gedoen, maar dit was net nie genoeg nie,” verduidelik Erasmus.

Hy het steeds sy span betaal – selfs in die grendeltyd toe talle besighede genoodsaak was om hul werknemers minder of geensins te vergoed nie.

Nie net het Erasmus sy werknemers probeer ondersteun gedurende ’n tyd wat dit vir hom en sy besigheid moeilik gegaan het nie, hy het ook aangehou om liefdadigheidswerk agter die skerms te doen en talle sopkombuise en kosskemas bygestaan om ’n verskil te maak.

“Dit is die Here se genade en hy het dit op my en my vrou, Lindie, se hart geplaas. Ons is nie mense vir die kollig nie en het dit wat ons vir ander gedoen het altyd uit die media probeer hou sover ons kon.”

Net toe Erasmus voel die skip gaan weer vaar, toe begin die finansiële uitdagings eers.

“Beurtkrag is grotendeels die faktor wat bygedra het tot ons besluit om ons deure te sluit. Die impak is veel groter as wat mense dink.

“Gepaard met beurtkrag en klein sakeondernemings se strewe om net gelyk te breek of bietjie wins te maak, het inwoners en klante se kooppatroon verander. Hulle kry net so swaar.”

Erasmus vertel aan Standard dat inwoners gewoonlik in Desembermaand op grootmaatvleisaankope sou doen om hulle juis te hou tot Februarie of Maart, maar met beurtkrag, die feit dat inwoners vrieskaste verloor weens die beurtkrag en daar sprake was dat die land selfs tot vlak-agt-beurtkrag sou ervaar, het inwoners net hier en daar aankope gedoen.

“Mense het ook nie geld nie en moet hul sente omdraai. Hulle verloor hul vrieskaste en yskaste weens beurtkrag en video’s is wyd verspreid, selfs oor die moontlikheid van ’n algehele staking van elektrisiteit.”

Chrisma Slaghuis, wat al meer as drie dekades ’n bekende en gerespekteerde onderneming is, kan net nie bekostig om alternatiewe kragopwekkers te kry nie.

“Die slaghuis is gebou en ingerig met groot koelkamers. Dit sal minstens tussen R600 000 en R800 000 kos om die omskakeling te doen en industriële opwekkers te koppel. Net op fase twee tot vier-beurtkrag sal dieselonkostes per week sowat R36 000 beloop. Dit is verregaande,” sê hy verder.

Hy vertel verder dat fase een of twee- beurtkrag nog bestuurbaar is, maar dat enige verdere vlakke of toename in beurtkrag hulle sleg beïnvloed het.

“Skielik kry jy ’n boodskap op jou foon dat die beurtkragrooster weer aangepas is en jy nou ’n hoër vlak sal ingaan. Jy kan net nie bybly nie. Ons kon op ’n gewone werksdag, as fase-ses-beurtkrag ingestel is, slegs vier en ’n half ure hê waarin vrieskaste en toerusting werk. Die hele ketting van slagters tot abattoirs is hierdeur geraak. Die raklewe van ons vleis is ook met ’n hele paar dae verkort en dit het bygedra tot ons besluit.”

Erasmus vertel dat hulle basies alles nou verloor het – beide in besigheid en in ’n persoonlike hoedanigheid, maar steeds op die Here vertrou vir ’n uitkoms.

“Die winkel is reeds gesluit en ons probeer van die toerusting verkoop. Ons is basies amper in ’n persoonlike hoedanigheid ook dakloos en ek is op soek na werk. Ons vertroue bly in die Here. Hy is die enigste een wat ons kan bystaan en vir ons wys wat die pad vorentoe is. Ons moet vertrou en ons doen dit,” verduidelik Erasmus verder.

Sy personeel was taamlik hartseer oor hierdie besluit, maar hulle is lank vooraf voorberei en geken in die sake van die besigheid.

“Hulle is my familie. Ons kom ’n lang pad al saam. My grootste wens is dat ek ten minste net vir hulle kan help om op die been te bly en God was ons en hulle genadig.”

Erasmus vertel dat binne ’n paar dae nadat die videoboodskap deur Jaco van Dyk van WoesTV op sosiale media gedeel is, die Shoprite-groep hom genader en vir elkeen werk aangebied het.

“Dit maak my hart bly en ek is dankbaar. Hulle verdien dit. Dit was my grootste bekommernis. Ek bly dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning en lojaliteit.

“Nadat die video uitgesaai is, het honderde mense en besigheidseienaars wat in dieselfde bootjie is my gekontak. Niemand weet of hulle hierdie krisis gaan oorleef nie.

“Ek doen ’n beroep op inwoners om klein besighede te ondersteun. Dit is al hoe hulle sal kan oorleef.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article