‘n Tragiese ongeluk die afgelope Sondagoggend (13 Julie) in die vroeë oggendure het die lewe van ‘n man van Avianpark in Worcester geëis.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, ‘n woordvoerder vir die Worcester-polisie, het twee mense in ‘n silwerkleurige Audi A3 op die Aan De Doorns-pad gery toe die voertuig kort ná 01:00 naby die Aan De Doorns-kelder omgeslaan het. Net die een voertuig was in die voorval betrokke.
Abraham Swartz, ook bekend as Abon, is in die ongeluk oorlede.
Die passasier, Marion le Roux, is deur ‘n ambulans hospitaal toe geneem, het Jacobs gesê.
“Met die polisie se aankoms het hulle die motor, wat omgeslaan het, aan die regterkant van die pad in die veld gekry. Die bestuurder is deur die ambulanspersoneel op die toneel dood verklaar, terwyl die passasier, wat ‘n gebreekte femur (bobeen) gehad het, hospitaal toe geneem is,” het Jacobs gesê.
Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.




