Hierdie jaar se 16 dae van aktivisme is om die draai (25 November – 10 Desember) en sal weer eens wêreldwyd die ongeregtighede en geweld teen vroue en kinders uitlig.
Die tema van vanjaar se veldtog is “verenig” en fokus daarop om plaaslike regeringsorganisasies, asook vroue- en kinderorganisasies en ondersteuningsnetwerke aan te moedig om in solidariteit saam te werk om geslagsgeweld te voorkom.
Hierdie veldtog het in 1998 begin in Suid-Afrika, nadat dit wêreldwyd in 1991 deur die Women’s Global Leadership Institutevan stapel gestuur is om gemeenskappe sonder enige geslagsgeweld te bevorder.
Volgens die woordvoerder van Worcester-polisiekantoor, AO Vatishwa Jacobs, het geslagsgebaseerde geweld in Worcester sedert 2021 toegeneem.
Terselfdertyd is meer mense bewus daarvan dat dié gruweldaad aangemeld moet word deur sake te open.
Volgens die regering
sal Suid-Afrika in die 16 dae van aktivisme-tydperk saam met die burgerlike samelewing asook die privaatsektor ’n reeks gemeenskaps- en sektor-dialoë en -aktiwiteite aanbied om ’n samewerkende poging in die hantering van geslagsgeweld te bevorder.
Die regering vra alle gemeenskappe om kulture en praktyke uit te daag wat geslagsongelykhede en die mishandeling van vroue en kinders aanmoedig.
Skakel die volgende nommers in die Breedevallei- en Langeberg-munisipaliteit
om geslagsgeweld en geweld teen kinders aan te meld:
-
Family and Marriage Society of South Africa (Famsa) in Robertson kan geskakel word by 065 681 9228 om geslagsgeweld en geweld teen kinders aan te meld. - Die departement van maatskaplike ontwikkeling in Robertson kan ook slagoffers van geslagsgeweld en geweld teen kinders bystaan. Skakel 023 626 6219.
- Die ACVV nieregeringsorganisasie in Robertson kan geskakel word by 023 636 3097 om kindermishandeling aan te meld.
- Die ACVV nieregeringsorganisasie in Montagu kan gekontak word by 023 614 1490.
-
Die Thuthuzela-sorgsentrum in Worcester staan slagoffers van geslagsgebaseerde geweld by en is bereikbaar by 023 348 1223 of 023 348 1294.


