Beroerte eis Worcester sport-ikoon uit vervloë dae

Charles le Roux

Beroerte eis Worcester sport-ikoon uit vervloë dae


Een van Worcester se sportsterre van weleer, die 76-jarige Charles (Mou) le Roux, is Sondagaand (27 September) in die Worcester-hospitaal oorlede nadat hy sowat ‘n week gelede ná ‘n massiewe beroerte daar opgeneem is.

Mou, soos hy alombekend was, is hier in Worcester as oudste kind van wyle Wally en Lenie le Roux gebore.

Nadat hy sy hoërskoolopleiding aan Esselenpark Senior Sekondêre Skool voltooi het, het hy hom as skrynwerker bekwaam. In 1975 tree hy in die huwelik met Carol, ‘n nooi Titus.

Uit die huwelik is twee seuns, Chandler en Shaun, gebore. Charles was ook die trotse oupa van vyf kleinkinders.

Dit is egter in sport waar Mou ‘n legende in eie reg geword het. Reeds op hoërskool het hy sy ontsaglike talente ten toon gestel en veral in hoogspring beïndruk. Hy wen nie net die Bolandkampioenskap as o.14-hoogspringer nie, maar volg dit op toe hy ook as Suid-Afrikaanse kampioen aangewys is in Groenpunt.

Dit volg hy die volgende jaar op toe hy as Suid-Afrikaanse kampioen uit die stryd tree in die o.16-afdeling op Dal Josafat in die Paarl.

Hy speel ook rugby en krieket vir die skool en word later ook in die Boland Skolespan opgeneem – boonop as kaptein van die krieketspan.

Hy begin ook klubrugby vir Primrose speel saam met manne soos Jimmy Moses en Kallie Job wat later albei Suid-Afrikaanse kleure verwerf het. Le Roux word opgeneem in die Worcester Uniespan as slot en word selfs vir Boland gekies om teen Sentraal-Karoo te speel, maar moes hom onttrek omdat sy destydse werkgewer hom voor ‘n keuse gestel het – of dit nou rugby of werk is wat voorkeur moet geniet.

Dit is egter in krieket waar hy behoorlik stem dik gemaak het. Hy begin as 17-jarige onder sy pa se kapteinskap vir Primrose speel en het opponente hoofbrekens besorg met sy wegbrekers. Hy spog met die onderskeiding dat hy op sy 21ste verjaarsdag 111 (nie uit nie) teen Moslems-krieketklub aangeteken het, terwyl hy ook 7 vir 5 lopies teen Safcol van Grabouw geneem het.

Hy word opgeneem in die Bolandspan en is ook later met spanmaats Moses en Theo le Cordeur opgeneem in die WP-span vir ‘n interprovinsiale toernooi in Kimberley. Dit volg hy die volgende jaar op met spanmaats Omaar Henry, Marshall September, Kulu February, Isgaak Tromp, Henry Dawson en die latere bekende in onderwyskringe Brian O’Conell as kaptein en spanmaats.

Mou laat ook vier susters en twee broers agter.

Sy begrafnisdiens is eerskomende Saterdag om 09:00 in die St. James Anglikaanse Kerk in Waterloostraat. Besigtiging by die kerk is van 08:00.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article