Gemeenskapslede in Touwsrivier se hulle gaan gebuk onder bendegeweld in die dorp.

“Dinge gaan rof hier by ons. En dit blyk die polisie steur hulle nie veel aan wat tussen die bendes hier aangaan nie. Die polisie vat die gangsters se kant,” het een inwoner selfs aan Standard & Gazette gesê.

Volgens dié inwoner gaan dit so sedert pres. Cyril Ramaphosa verlede jaar die kwytskelding van sekere gevangenes goedgekeur het.

“Die bendegeweld het begin kort nadat die bendelede uit die tronk gekom het. Nou baklei hulle gereeld oor en weer. Daar was wel in Februarie ’n week waar dit rustig was nadat die raadslid ’n versoek gerig het. Maar ná daai week toe gaan dinge net verder.”

Die inwoner meen ook die voortdurende bendegeweld tussen die 28’s en JCY’s is die rede hoekom ’n onskuldige man op 11 Mei doodgemaak is. “Hulle het ’n groot man voor sy huis doodgesteek.”

’n Woordvoerder van die Touwsrivier-polisie het bevestig die man se moord was bendeverwant.

“Bendes het by die man se huis opgedaag, want hulle was op soek na sy seun. Die seun was daai tyd nie by die huis nie maar die bendelede het oproerig geraak met die man. Hulle het hom forseer om vir hulle te se waar sy seun was. ’n Argument tussen die man en die bende het toe ontstaan, toe steek een hom dood,” sê die woordvoerder.

Die oorledene was die 56-jarige Charles Windum en hy was welbekend in die gemeenskap.

“Charles Windum (Jan Bos), is Saterdagaand voor sy huis met ’n skerp voorwerp doodgesteek. Charles se vrou, Sandra, werk al vir ons vandat ons aan die einde van 2008 in Touwsrivier gekom het. Charles het ons huis van buite en binne geverf, verskeie areas geteël, en die eiland voor ons huis beplant en versorg. Ons familie het lief en leed met sy familie gedeel. Hy het ons baie laat lag, en soms kwaad gemaak met sy manewales. Ons het baie staaltjies oor hom te vertel. Charles, ons gaan jou mis. Sandra, vir jou en die kinders en kleinkinders: ons bid vir julle, vir leiding en krag, vir vertroosting en vir voorspoed in die toekoms,” lui ’n Facebook-inskrywing.

Volgens die woordvoerder is daar aanvanklik drie mense vir die moord op Windum in hegtenis geneem. Twee is egter later vrygelaat.

Die Touwsrivier-polisiekantoor het kort ná die Windum-moord ’n nuwe bevelvoerder gekry.

Kapt. Nompumelelo Mavata sê sy is bewus dat die gemeenskap deur bendegeweld geteister word. “Ons is tans besig om aan ’n plan te werk om bendegeweld in die dorp uit te roei. Fynere detail oor hierdie plan kan ongelukkig nie in hierdie stadium bekend gemaak word nie. Ons strewe daarna om die bendegeweld in die dorp uit te roei,” het Mavata by navraag aan Standard & Gazette gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article