Ek gesels onlangs met een van ons nuwe inwoners, ’n kleine, fyn vroutjie.
Elisha se storie is aanmekaargeweef met soveel hartseer dat ek wonder hoe sy voor my kan sit met ’n oop glimlag wat straal van geluk. Die antwoord is egter eenvoudig – sy ken die Here, met haar hele hart en siel.
Sy vertel my openlik oor haar lewe en van die verwerping en mishandeling wat sy beleef het. Sy wou soveel keer net opgee en het gevoel dit sou beter gewees het as die Here haar net kom haal het. Maar dan vertel sy van die vele kere wat sy ten spyte van haar omstandighede en tekortkominge haarself sou uitdaag om te oorwin. Sy het ten spyte van haar swak sig en die feit dat sy sonder ’n duim aan een hand gebore is, gewerk en haarself deur kollege gesit. Elke keer as sy die woorde “jy kan nie” gehoor het, het dit haar meer gemotiveer.
Ek sit vasgenael en luister na haar storie toe haar volgende woorde my onverwags weer aarde toe bring. Sy vertel met oortuiging dat sy glad nie na Innovation for the Blind wou kom nie. Sy het allerhande negatiewe stories geglo en gedink as sy na Innovation sou kom, dit ’n teken sou wees dat sy misluk het. Sy stel my egter vinnig gerus en erken ruiterlik dat sy heeltemal verkeerd was in haar persepsie van die organisasie.
Vandag wens sy sy kan dit van die dakke af skree dat Innovation ’n plek is waar nuwe geleenthede geskep word vir mense soos sy, waar sy aanvaarding beleef en groei en ontwikkel tot die mens wat sy graag wil wees. Sy studeer tans om ’n versorger te word en slaag elke toets en eksamen met lof.
By Innovation het ons ’n nuwe veldtog begin – #BecomeAnAmbassador. Deur hierdie veldtog wil ons personeel, inwoners, skenker-vriende, vennote en alle ander belanghebbendes aanmoedig om saam aan ons toekoms te werk – ’n toekoms waar innovasie aan die orde van die dag is; waar ons saamwerk om nuwe geleenthede te vind om mense met visuele gestremdhede te bemagtig om die dinge waaroor hulle tans nog net droom, te doen; ’n toekoms waar mense soos Elisha hul potensiaal bereik en elke dag met ’n glimlag voluit leef!
Elisha se storie laat my hart warm klop – om net weer te kan hoor dat Innovation for the Blind vir mense met visuele gestremdhede geleenthede skep om hul talente te ontdek, hul potensiaal te ontwikkel en ’n tuiste te vind. Dit is my droom vir elke mens wat hierheen kom. Ek het geleer elke klein en groot oorwinning maak ons werk die moeite werd. Elke keer wanneer ek hoor een van Innovation se mense sê hul lewe het sin en betekenis, vul dit my met soveel dankbaarheid.
Ons kyk met opgewondenheid na ’n toekoms wat ons met ywer, passie en ’n diepe afhanklikheid in ons Hemelse Vader opneem. Baie dankie aan elkeen wat saam met ons ambassadeurs is om hoop, ’n nuwe tuiste en geleenthede aan nog baie mense soos Elisha te bied.



