Die befaamde internasionale kunstenaar, Vasek Matousek van Tulbagh, stal tans uit in die Rust en Vrede-galery in Durbanville.

Die tema Die Teater behels kleiwerk, skilderkuns, kostuums, verfwerk, houtwerk en kralewerk. Die uitstalling is Dinsdagaand geopen en duur tot einde Februarie.

Vasek het as internasionale ysskaatser in Suid Afrika beland. Weens sy voortdurende verhouding met die teater het hy gou ’n kundige geword met kostuums, dekor en alles wat daarmee gepaard gaan.

Hy was ook die eerste wat kostuums “vir beweging” begin ontwerp het in die dae van Marjorie Chase.In ’n stadium was hy hoof van kostuumontwerp by KRUIK, maar sy groot doelwit was om geld bymekaar te maak vir kunsstudies.

Benewens dat Vasek dié doelwit behaal het, het hy ook later lektor geword in drukkuns by die Kaapse Technikon.

Hy het daarna uitgewyk uit die stad en ’n ideale gebou vir ’n galery ontdek op ’n plaas in die Winterhoek waar hy en Hannah, sy hondjie, reeds langer as 20 jaar woon en werk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article