Een van Worcester se bekendste gholfjoggies het ná meer as 60 jaar en honderde kilometers as gholfjoggie agter die witballetjie aan stil-stil halt geroep en verkeer die afgelope twee jaar heel rustig met sy portuurgroep in die Awendrus-ouetehuis.
Johan Fransman, of vir almal wat sy pad gekruis het sommer net “Johnnyboy” of “Whitey”, het op 21 Oktober sy 80ste verjaarsdag saam met vriende en familielede gevier.
Hy vertel dit is heerlik om net terug te dink aan al die lekker tye as gholfjoggie vir langer as ses dekades vir van die bekendste gholfspelers in Worcester, maar ook vir besoekende gholfspelers van oor die land heen, asook vir gholfspelers van oorsee.
Whitey, wat eintlik uit ‘n familie stam kom waar rugby en veral krieket nommer een op die lys was, het vir langer as 20 jaar onder die bekende rugbyspeler en duiweboer Koos van Niekerk as bestuurder in die Combing-afdeling by Hex Tex gewerk.
Vir sakgeld het hy reeds as 10-jarige by die plaaslike gholfklub bekendes se gholfstokke begin dra. Hier was Whitey sommer gou ‘n gewilde en bekende gesig en hy het be- kende gholfspelers van weleer, soos die Siddlebroers (Jimmy, Mike en Crispin), Poen Jordaan, drs. Luyt, Watermeyer, Sagor en Wilson – om maar ‘n paar te noem – se stokke gedra.
Whitey het die ou baan, waar Boland Kollege vandag geleë is, soos die palm van sy hand geken en presies geweet watter stok vir watter afstand vir elke speler nodig was. Ook vir buitelanders was sy insette van groot waarde omdat hulle nie vertroud was met die baan en weersomstandighede nie.
Met die baan se verskuiwing het Whitey ook gereeld die afstand na die nuwe baan afgelê om gholfspelers daar van hulp te wees.
Met die totstandkoming van Riverside se eie gholfbaan het Whitey ook daar gholfsplers se stokke gedra. Hy spog met die onderskeiding dat hy ook vir 40 jaar die bekende kleremaker Edgar en sy oorlede broer en stigterslid, Kulk Martinus, se gholfjoggie was. Hy vertel ook met trots dat hy gereeld die bekende rugbyspeler van weleer Joslin Ontong se caddy was.
Whitey se bydrae kan gewis nie gering geskat word nie. Dié wat hom ken en oor die jare op die gholfbaan raakgeloop het, wens hom ‘n rustige aftrede toe, met sy herinneringe en staaljies op en weg van die gholfbaan af. – Alver Uys





