Vanjaar lui ‘n nuwe seisoen in vir ‘n bekende finansiële adviseurspan in Worcester. Consult Breedevallei staan sedert 1 Maart bekend as PSG Breedevallei.

Hoewel hulle ‘n nuwe baadjie dra, bied die span steeds die deurwinterde finansiële kennis en advies wat hul kliënte oor jare heen leer ken het.

Fanie Breytenbach, mede-prinsipaal saam met Lomon van der Vyver, het ‘n uitstekende reputasie as ervare adviseur en ontwikkel strategieë en implementeer pasgemaakte finansiële planne vir sy kliënte, beide privaat en besigheidsentiteite, wat hul welvaart laat groei en dit beskerm.

Hy het sy meestersgraad in Besigheidsadministrasie aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en sy loopbaan begin as landbou-ekonoom vir die Wes-Kaapse regering. Hy het by Absa aangesluit as landbou-ekonoom en daarna as besigheidsbankier en finansiële adviseur by die bank gewerk.

Tien jaar gelede het hy by Momentum Consult aangesluit, wat met rasse skrede gegroei het. Met die uitbreiding van die onderneming het hy vir Lomon van der Vyver genader om hom te help om sy droom – ‘n eenstop finansiële adviesdiens wat alle finansiële dienste aan ‘n kliënt bied – te verwesenlik.

Lomon van der Vyver

Lomon het wel nie onmiddelik die geleentheid aangegryp nie, aangesien hy heel tevrede in die vrugte-uitvoerbedryf was. Sy passie om mense te help het hom egter laat besluit om Fanie se aanbod te aanvaar.

Lomon het jare se ervaring wat finansiële beplanning aan betref. Hy het sy tande as landbou-ekonoom by die Departement van Landbou geslyp en daarna tien jaar lank by Standard Bank se agri-afdeling gewerk.

Met ‘n passie vir landbou het hy later saam met boere in die De Doorns-omgewing in die vrugte-uitvoerbedryf gewerk.

“Ek het in Augustus 2016 as ‘n adviseur in korttermyn-versekering begin werk en ons het ‘n sterk praktyk opgebou. Met die korttermynversekering wat deel van die praktyk geword het, het kliënte die voordeel dat daar holisties na hul geldsake gekyk word,” het Lomon gesê.

Vanjaar lui ‘n nuwe hoofstuk vir die adviseurs in met die skuif na PSG Wealth/Insure. “Ons het besluit om die skuif na PSG te maak, omdat hul model vir ons kliënte kontinuiteit en gerusstelling bied,” het Fanie verduidelik.

“PSG gee ons toegang tot produkverskaffers soos Discovery en Western, waartoe ons voorheen nie toegang gehad het nie.” “Ons sukses is geskoei op noue samewerking met ons kliënte se rekenmeesters, ouditeure, prokureurs en bankiers wat steeds baie belangrik is vir PSG Breedevallei. Geen finansiële beplanning word gedoen sonder dat ons hulle geraadpleeg het nie,” het Fanie gesê. Hierdie holistiese aanslag tot hul kliënte se finansiële beplanning maak hulle uniek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article