’n Bejaarde man van Avianpark het by die dood omgedraai toe hy met ’n mes gesteek is, en dit vir ‘n blik verf. 

Hendrik Jansen (71) sê hy het gesien hoe sy lewe voor sy oë verbyflits toe ’n man sy blik verf wat hy by Build It gekoop het, afgeneem en hom in die bors gesteek het.

Jansen was Saterdag (2 April) omstreeks 10:00 met ’n vyfliter-blik verf op pad na sy huis. “Naby die petroltenks het ek die man sien aankom, maar ek het niks daarvan gedink nie, want ek loop gereeld daar.”

Hy vertel verder dat ’n stoeiery uitgebreek het en omdat hy al 71 is, het hy sy balans verloor en agteroor geval. “Die man het dit toe reggekry om die verf af te vat, maar hy het my gesteek. Die lem het my hart net-net gemis.”

Die man wat Jansen gesteek het, het in die rigting van Zwelethemba gehardloop en die mes oorkant die petroltenk neergegooi. Volgens Jansen was daar drie mans wat die voorval gesien en in hul motors geklim en hom gejaag het. “Gelukkig het hulle hom gekry.”

Jansen, wat duidelik nog pyn verduur, sukkel geweldig om asem te haal. Hy het aan Standard gesê hy wil graag hê die polisie moet nou gereeld daar kom patrolleer. “Ek wil net dankie sê aan die manne wat my gehelp het; hulle het my lewe gered.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article