’n Getroude egpaar (albei 80) is op 11 April om 21:00 die aand in hul huis in Bluegumstraat in Worcester-Wes deur twee mans aangeval en vasgebind.
Volgens AO Vathiswa Jacobs was albei verdagtes met ’n mes bewapen, en het hulle die woning binnegegaan waarna hulle die egpaar met elektriese kabels vasgebind het.
’n Saak van diefstal word deur die Worcester-polisie ondersoek.
Nadat die verdagtes verskeie elektroniese apparate gesteel het, het hulle gevlug, waarskynlik na ’n beboste erf na aan die huis van die egpaar wat beroof is, het Jacobs per e-pos aan Standard verduidelik.
Volgens Diana Murray van Worcester-buurtwag het die twee verdagtes toegang tot die huis verkry deur ’n deel van die sementmuur wat grens aan die beboste erf uit te haal en deur te klim.
Murray het verduidelik dat ’n boodskap op ’n WhatsApp-groep geplaas is deur iemand in die buurt wat gesê het dat ’n vrou om hulp geskree het.
Met Murray en haar span se aankoms was lede van die plaaslike polisiekantoor, asook private sekuriteitsmaatskappye reeds by die egpaar se huis.
“Volgens hoorsê het die rowers by ’n oop deur in die huis ingegaan,” het sy verduidelik.
“Hulle [die verdagtes] het die oom en tannie in aparte kamers vasgebind, die oom in die sitkamer, en die tannie in die slaapkamer.”
Van die toestelle wat gesteel is, sluit in ’n selfoon, skootrekenaar, asook die bejaarde vrou se troupant.
Die verdagtes het ook die krag afgesit sodat die huis donker vertoon en daar nie van buite af ingesien kon word nie.
Murray het ook bygevoeg dat die egpaar, wat reeds ’n geruime tyd in Worcester woon en afgetree is, getraumatiseer voorgekom het.
Met haar besoek verlede Saterdag het hulle ook steeds kneusplekke en bloukolle gehad soos die twee verdagtes hulle rondgestamp het.
Standard het die bejaarde egpaar gevra om kommentaar, maar hulle het dit van die hand gewys.
Geen ernstige beserings is aangemeld nie en die verdagtes is nog op vrye voet.




