Dis ’n nuwe jaar en tyd om oor jou geldsake te besin. Dalk is dit ook sommer ’n goeie tyd om doelwitte vir jou finansies te stel. Hier is vyf voornemens wat dalk kan help dat jou beursie in 2017 ’n bietjie langer vol bly.

1. Gebruik jou kredietkaart minder.

Mense maak dikwels die fout om alles op skuld te koop sonder om te besef hoeveel hulle werklik uitgee. Sluit jou kredietkaart weg en werk met kontant waar jy kan. Jy sal gou twee keer dink voordat jy geld uitgee.

2. As jy nie ’n maandelikse begroting het nie, stel een op.

As jy wel een het, hersien dit en kyk of jy ’n paar veranderings kan maak om te spaar.

3. Bepaal elke kwartaal wat jou netto waarde is.

Dit sal jou ’n goeie aanduiding gee van hoe jy vorder om jou welvaart te skep.

4. Sny uitgawes wat jy nie voorheen sou oorweeg nie.

Moet jy regtig elke week gaan uiteet of jou middagete in die kafeteria gaan koop?

5. Vra jouself af: Wat is my sonde-uitgawes?

Dit is nie alleen gesond om op te hou rook of minder te drink nie, dit gaan jou ook baie geld bespaar. Met die regering wat ’n suikerbelasting oorweeg, kan jy dalk ook afsien van te veel sjokolade en ander lekkernye wat binnekort waarskynlik duurder gaan word. – Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article