Vanjaar se Kerstyd kan nie op ’n beter noot afskop as met Klassieke Kersfees op Sondag 13 Desember by die Liqui-Fruit-amfiteater in die Paarl nie.

Dié konsert, wat vanjaar vir die vyfde keer aangebied word, spog met vier van die grootste stemme in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf: Jannie Moolman, Corlea Botha, Kevin Leo en André Schwartz.

Volgens die musikale regisseur, Melissa van der Spuy, kan die gehoor ’n samestelling van gewilde Kersliedere en klassieke nommers soos All I Ask of You, O Holy Night, Pie Jesu, Ave Maria en Mary’s Boy Child verwag.

Volgens Van der Spuy is Klassieke Kersfees die ideale plek vir families en vriende om saam te kan deel in die geskenk van musiek.

Daar word reeds maande voor die tyd hard agter die skerms geoefen en gewerskaf.

“Die repertoire vat baie lank om te finaliseer, afhangend van die beskikbaarheid van kunstenaars se repertoires en ook watter orkestrasies vir die orkes en koor beskikbaar is,” verduidelik Van der Spuy.

Die orkes, koor en kunstenaars oefen op hul eie tot die dag voor die konsert, wanneer almal vir die eerste keer saamkom.

Die konsert is verlede jaar deur meer as 3 000 mense bygewoon. Die opelug-venue, een van die mooistes in die land, is die ideale plek om ’n somer-Kersfees te kom vier, so kom sommer vroeg en koop iets te ete en te drinke by die wye verskeidenheid kos- en wynstalletjies.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

  • Drie van die Standard se lesers kan dubbele kaartjies wen na hierdie jaar se Klassieke Kersfees.

Om in te skryf, SMS die woord “Kersfees” en jou naam na 34426 voor Woensdag 9 Desember om 12:00. SMSe kos R1,50.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article