Breedevallei-munisipaliteit se vorige burgemeester, Basil Kivedo (71), is op Maandag (3 Oktober) aan ‘n hartaanval dood.

Nuus van sy afsterwe het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur en boodskappe van medelye is wyd op sodiale media gedeel.

Sy susterskind, Sadie Hector, vertel dat hulle familie steeds geskok is weens die nuus en dat sy dood ‘n groot leemte laat.

“Hy was opgeneem in Worcester-hospitaal en het skuins na 16:00 daar beswyk weens ‘n massiewe hartaanval. Ons kan dit steeds nie eintlik glo nie. Nie een van ons weet hoe om die nuus te verwerk nie. Dit gaan maar moeilik,” vertel Hector.

Kivedo was as jong man reeds betrokke by die stryd teen Apartheid. Hy het sy vormingsjare in die Boland deurgebring en het na skool ‘n graad in sosiologie in die Kaap voltooi. Hy het verder studeer en later ook as lektor in dié vakgebied gedoseer. Dit was egter in die politiek waar hy sy nering gevind het.

Hy het sy skoene as kampvegter volgestaan teen onderdrukking en langs baanbrekers soos Steve Biko gewerk. In 2011 is Kivedo ingehuldig as die uitvoerende burgemeester van die Breedevallei en het hier ‘n impak op talle se lewens gemaak. Hy was ook later ‘n provinsiale leier in die parlement en het as voorsitter van die staande komitee vir onderwys in die provinsie gedien – dit terwyl hy by sy kerk betrokke was en sy liefde vir die Here uitgeleef het.

“Hy was ‘n ikoon en het soveel lewens aangeraak. Die wond wat ons tans voel is diep. Oom Basil sal onthou word vir sy vriendelikheid. Ons is vol trots wanneer ons oor hom praat. Hy het nooit iets sleg te sê gehad oor ander nie en hy het die kuns van storievertel bemeester. Hy was ‘n regte mense-mens,” voeg Hector by.

Sy vertel verder hoe groot eer dit vir haar was om vir ‘n wyle onder sy leiding by die munisipaliteit te kon werk.

“Hy het my geleer om altyd vir myself op te staan en dat enigiets moontlik is. Hy het my gewys hoe om daar te wees vir jou medemens. Want dit is wie hy was. Dit bring groot troos vir ons gesin dat ons weet hy was geliefd. Ons vra mense om dit wat hy ander geleer het saam te dra.”

Talle bekendes en politieke partye het via sosiale media hul eer aan hom betoon.

Mense soos die bekende skrywer Diana Ferrus, asook  die huidige uitvoerende burgemeester, Antoinette Steyn, wat sò haar lof teenoor hom uitgespreek het: “Ai ou Basil, my hart is seer. Seer oor daardie brein met kennis en soveel om te bied wat nou net weg is, maar ek weet ons Hemelse Vader het jou nodig in sy hemeltuin. Ek sal ons gesprekke, ons oproepe en ons kuiers altyd onthou – die goed en sleg. Rus sag my vriend. Ons groet jou. Jou stories sal voortgaan en ons sal jou altyd hoor in die gang van ons gedagtes.”

Die familie sal binnekort begrafnisreëlings bekendmaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article