‘n Vragmotor het skade aan Bainskloofpas gerig.

Nog ‘n vragmotorongeluk het onlangs op die Bainskloofpas gebeur waar wesenlike skade aan die infrastruktuur op die pas aangemeld is. Dié keer het die bestuurder sukkel-sukkel deur die pas aangery, nie die voorval aangemeld nie en is dus nie vasgetek nie.

Volgens Stephan Landsberg, die VF Plus-raadslid in die Drakenstein-munisipaliteit (DM) en wat hom beywer vir die beveiliging van die pas deur die plaaslike munisipaliteite verantwoordbaar te hou en dit reeds na provinsiale vlak geëskaleer het, het die voorval net ná middernag op 20 Februarie in die vroeë oggendure gebeur.

Landsberg het gesê dit blyk die vragmotors was te breed vir die pas en het gevolglik in sekere dele in die pas vasgesit en dit beskadig.

Op foto’s kan gesien word hoe die vragmotor ‘n brug beskadig het, asook ‘n gedeelte van die klipmuur – so erg dat die vragmotor se allooiwiele gebreek het.

Die koerant het navrae aan die Wellington-polisie gerig, maar volgens kol. Johan Barkhuizen, die stasiebevelvoer­der van die Wellington-polisie, is geen sake aangemeld nie.

‘n Brug op die pas is ook beskadig.

‘n Paar dae tevore het twee toerbusse glo ook die roete gebruik en deur die Preekstoel-gebied beweeg. Daarna is rommel en drankbottels in die omgewing aangetref, volgens hom.

Landsberg voer aan belastingbetalers moet telkens die koste van herstelwerk dra, terwyl oortreders min of geen gevolge in die gesig staar.

Landsberg het in ‘n verklaring gesê verskeie VF Plus-mosies is reeds sedert Oktober verlede jaar by die DM se raad ingedien waarin optrede en terugvoer versoek is. Die mosies, wat in Oktober 2025, Desember 2025 en Januarie 2026 ter tafel gelê is, is volgens hom óf afgestem óf onbeantwoord gelaat.

Hy meen onduidelikheid heers tans oor watter owerheid verantwoordelikheid vir die beskerming van die pas moet neem. Hy het verwys na die DM, die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) en die Wes-Kaapse provinsiale regering en gesê die gebrek aan gekoördineerde optrede lei tot verdere skade.

Tolhek

Belanghebbendes bepleit reeds sedert 2017 die instelling van ‘n tolstelsel soortgelyk aan dié van Chapman’s Peak Drive.

Die vragmotor se allooiwiele is beskadig.

Volgens Landsberg is egter nog geen stappe deur die provinsiale regering gedoen om so ‘n stelsel vir die pas in te stel nie.

Paarl Post het in Februarie verlede jaar oor die voorstel berig en geskryf dat die provinsiale departement van infrastruktuur nog geen planne opgestel het om ‘n tolhek by die pas aan te bring nie.

Indien ‘n tolhek in die toekoms oorweeg word, sal dit ‘n uitgebreide konsultasieproses verg, het die departement in sy terugvoering gesê.

Nasionale monument

Die Bainskloofpas is ‘n verklaarde nasionale monument, wat tussen 1849 en 1853 deur Andrew Geddes Bain gebou is.

Die pas, nou sowat 173 jaar oud, was een van die eerste groot deurgange na die binneland en is oorspronklik vir ossewaens ontwerp, luidens die verklaring.

Die VF Plus het in die verklaring gesê hy sal voortgaan om druk op die owerhede uit te oefen vir konkrete oplossings en groter beskerming van die bergpas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article