Kom stap of draf saam en help so om geld in te samel vir die Boland Skool vir Outisme.
Skryf in vir die Afrikaanse Taalmuseum en -monument en Paarl-atletiekklub se jaarlikse aandwedloop wat op Woensdag 7 Desember gehou word. Medaljes, kontantpryse en gelukkige trekkings is op die spel.
Die 5 km-woordloop, wat om 18:40 begin, is bedoel vir die hele gesin. Stootwaentjies is welkom.
Die inskrywingsfooi is R20 (R25 aanlyn). Alle 5 km-deelnemers ontvang ’n woord in plaas van ’n nommer.
Die 10 km-aandwedloop, wat volgens die reëls van Atletiek Suid-Afrika en Boland Atletiek aangebied word, begin om 18:30. Dit volg ’n opwindende en uitdagende roete op teer- en grondpaaie. Stappers is welkom. Die inskrywingsfooi is R50 (R57 aanlyn), met tydelike nommers teen R30 vir diegene wat nie lede van ’n atletiekklub is nie.
Deelnemers kan op drie maniere inskryf: aanlyn by www.entrytime.com, by die Taalmonument (daagliks vanaf 08:00 tot 17:00), asook op die dag van die wedloop tussen 17:00 en 18:15.
Boland Skool vir Outisme, ’n geregistreerde nie-winsgewende organisasie, is in 2010 gestig. Vandag huisves die skool meer as 20 leerders wat van so ver as Tulbagh, Stellenbosch, Saron en Wellington kom.
Die skool se span bestaan uit onderwysers, assistente, arbeids- en spraakterapeute, ’n biokinetikus, ’n opvoedkundige sielkundige en ’n skoolbestuurder. Ouers kan nie altyd al hierdie dienste bekostig nie.
Toegang is gratis vir ondersteuners. Eie piekniekmandjies is welkom en verversings sal te koop aangebied word.
Vir navrae oor die 10 km-aandwedloop, kontak Sybrand du Plessis by 083 770 5107. Vir navrae oor die 5 km-woordloop, kontak Amira Clayton by 021 863 0543/4809 of kommunikasie@taalmuseum.co.za.



