Worcester se “bababoks” is geïnstalleer en aan al die nodige dienste en departemente gekoppel.

’n Groep mense van Worcester het nadat die mees onlangse babalyk in ’n sloot in April op die dorp gevind is, besluit om iets te doen. Ná hul eerste vergadering in April het dinge vinnig gebeur.

’n Baby Saver, oftewel ’n bababoks, is ’n houer wat gewoonlik in ’n muur ingebou word. Mammas wat dan voel hulle kan nie na hul baba omsien nie, kan anoniem hul baba in die boks plaas en alle nodige dienste sal dan in kennis gestel word.

“Soveel mense, instansies en departemente het die hand opgesteek om deel van hierdie inisiatief te wees. Ons het ook in ’n rekordtyd ’n Baby Saver-boks gekry,” verduidelik Monique Snyman, een van die organiseerders.

Worcester Shopfitters het ingespring en die staalboks in Grabouw gaan haal en dit in die omheining van die NG Moedergemeente se pastorie in Kerkstraat geïnstalleer.

“Wanneer ’n baba in die boks geplaas word, gaan ’n alarm af en vier telefoonnommers sal daarvan in kennis gestel word,” verduidelik Carel van der Merwe, ook ’n organiseerder. “Hierdie vier nommers is ek en my vrou, die polisie, Priority-ambulansdienste asook die departement van gemeenskapsontwikkeling (DSD).”

Die ambulansdienste sal dan die baba se toestand nagaan, en indien die baba verder hulp benodig, sal dit na die hospitaal geneem word. Indien die baba se gesondheid na wense is, sal DSD die nodige prosesse begin.

Dié groep inwoners sê almal is verlig dat die boks nou uiteindelik ’n werklikheid is.

“ ’n Mens voel half skuldig dat jy dankbaar is dat die boks nou hier is. ’n Mens wil nie noodwendig hê ’n mamma moet haar kind weggee nie, maar as sy nie anders kan nie, is dit darem ’n opsie. Sy kan seker wees haar baba sal goed versorg word. Ons hoop eintlik dat dit nooit gebruik hoef te word nie, maar ons is verlig dat dit nou hier is indien ’n ma dit sou nodig hê,” meen Van der Merwe.

’n Bordjie sal eersdaags aangebring word om die presiese ligging van die boks meer sigbaar te maak. Die groep is ook besig om die inisiatief as ’n organisasie sonder winsbejag te registreer. Hulle het ook ’n Facebook-blad, Die Moses Mandjie Baby Rescue, begin, waar meer inligting gedeel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article