In reaksie op klagtes wat in Julie en vroeër vandeesmaand in Standard Breederivier Gazette verskyn het, het die direksie van Awendrus Versorgingsoord by monde van S.A. Petersen, uitvoerende direkteur, die volgende feite bekend gemaak om bewerings rakende hul versorging te weerlê:
Bewering oor honger inwoners
Volgens die bestuur ontvang inwoners drie gebalanseerde etes per dag, voorberei volgens ’n spyskaart wat deur ’n dieetkundige goedgekeur is. Indien ’n inwoner ’n spesiale dieet benodig, word dit deur die mediese dokter, wat die oord weekliks besoek, voorgeskryf.
Die departement maatskaplike dienste is tans besig met ’n ondersoek, terwyl die CCMA bewerings nagaan om te bepaal of dit gefabriseerde inligting is. Die oord se bestuur benadruk dat anonieme klaers nog geen bewys van hul bewerings gelewer het nie.
In Julie is ’n uitnodiging aan familielede van inwoners gerig om enige bekommernisse met die bestuur te bespreek. Geen familie het gereageer nie en die reaksie van lede op hul WhatsApp-groep was oorwegend positief oor die versorging wat hul geliefdes ontvang.
Pensioenfonds
Die direksie vind dit vreemd dat ’n inwoner oor ’n pensioenfonds kommentaar lewer, wat nie betrekking op hul persoonlike finansies het nie. Personeel het twee jaar gelede vrywillig uit die fonds bedank en hul geld is direk deur Momentum aan hulle oorbetaal.
Salarisverhoging en bonusse
Awendrus is afhanklik van staatsubsidies en inwoners se pensioen. Onderhandelings met die vakbond Lawu het tot ’n dooiepunt gelei, met die vakbond wat aandring op ’n 18%-verhoging en ’n 100%- bonus. Die oord kan egter net ’n 5%-verhoging aanbied, wat die vakbond nie wil aanvaar nie. Terwyl die vakbond nou op ’n 12%-verhoging aandring, kan Awendrus dit steeds nie bekostig nie. Bonusse word as ’n voorreg beskou, en nie as ’n reg nie, soos in die personeel se werkskontrakte bepaal word.
Verkoop van skenkings
Skenkings aan Awendrus word altyd waardeer. Oortollige artikels word teen ’n minimale bedrag aan werknemers verkoop, en die opbrengs word in die oord se bankrekening inbetaal, met bewys van elke transaksie beskikbaar.
Besoeke
Ingevolge die oord se beleid word besoekers nie in die kamers toegelaat nie, aangesien kamers deur tot vier inwoners gedeel word. Gesinne kan hul geliefdes in die algemene saal besoek. In uitsonderlike gevalle, soos met bedlêende inwoners, kan families hulle in die kamer besoek met vooraf reëlings. Siekeboegbesoeke word ook met vooraf reëlings gereël. Gereelde inwonersvergaderings word gehou om hulle van veranderende omstandighede of behoeftes bewus te maak.
Wasgoed en foto’s
Die tuimeldroër het in Julie gebreek, wat veroorsaak het dat wasgoed binnenshuis gedroog moes word tydens aanhoudende reën. Die situasie is nou opgelos. Die bestuur is bewus van die persoon wat die foto’s geneem en versprei het, en ’n ondersoek duur voort.
Munisipale rekening
Die munisipale rekening is nie agterstallig nie, en bewyse hiervan is beskikbaar.
Oopdeur-beleid
Die bestuur van Awendrus Versorgingsoord verwelkom enige regverdige kritiek of voorstelle van familielede en moedig hulle aan om enige ongelukkigheid direk met die bestuur te bespreek.
Die bestuur handhaaf ’n oopdeur- beleid en doen ’n beroep op enige anonieme klaers om formele klagtes by die polisie in te dien indien hulle bewerings van mishandeling of ontoereikende sorg kan staaf. Die bestuur sal teen mense optree wat onwaarhede versprei.




