‘n Ikoniese atletiekbyeenkoms herleef weer ná dertig jaar in Worcester.

Dié atletiekbyeenkoms, ‘n vierhoekige fees van spoed, krag en skooltrots, keer ná 30 jaar terug!

Ná drie dekades van herinneringe, rekords en legendariese atletiekprestasies is die wagtyd verby. Die ikoniese vierhoekige atletiekbyeenkoms tussen Esselenpark Sekondêre Skool, Worcester Sekondêre Skool, die Hoërskool Somerset en die Hoërskool Breërivier keer terug en dit beloof om groter, vinniger en net so gedenkwaardig te wees.

Vir baie oud-leerders was dié byeenkoms 30 jaar gelede meer as net ‘n sportdag. Dit was ‘n stryd van trots, ‘n vertoonvenster van talent en ‘n geleentheid waar vriendskappe en gesonde mededinging hand aan hand geloop het.

Nou kry ‘n nuwe geslag atlete hierdie kans terwyl ouers, oud-leerders en gemeenskapslede weer in die atmosfeer langs die baan kan deel.

Van die eerste wegspring tot die laaste aflos sal daar geen tekort aan aksie wees nie. Jong atlete sal hul spoed in die naellope wys, hul krag in die velditems bewys en hul uithouvermoë in die lang- afstande op die proef stel – alles terwyl skoolkleure trots wapper en ondersteuners hul stemme hees skree.

Die byeenkoms gaan oor meer as net bekers, medaljes en punte – dit gaan oor skoolgees, gesonde kompetisie en die herlewing van ‘n tradisie. Dit is ‘n geleent- heid waar herinneringe geskep word en waar jonk en oud saam kan juig.

Die organiseerders van die atletiekbyeenkoms distansieër hulle van enige vorm van dwelm- en drankmisbruik en dit word streng verbied.

Bring die gesin en familie en ervaar hoe vier trotse skole mekaar weer op die atletiekbaan ontmoet.

Onthou dié datum: Vrydag 30 Januarie by Bolandpark-stadion van 08:00. Die ingangsfooi is R20 vir alle ouderdomsgroepe. Gratis koeldrank beskikbaar. – Luciano du Toit

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article