Dit is die unieke en antieke fiets van Worcester Wes Motors wat op Woensdag 23 November gesteel is.


Die eienaar van ’n bekende onderdelehandelaar in Worcester is ontsteld na sy geliefde antieke afleweringsfiets op Woensdag 23 November gesteel is.

Pierre van Schalkwyk, eienaar van Worcester-Wes Motors, het jare gelede hierdie besondere fiets by ’n veiling in Ceres gekoop. Hy het die fiets tot sy volle glorie gerestoureer.

“Die fiets is stokoud. Daar is min van hulle oor en was jare gelede gebruik deur slaghuise en selfs drankwinkels om aflewerings te doen. Ek het jare lank na een gesoek en uiteindelik by ’n veiling een raakgeloop. Ek het die fiets gekoop vir R3 600, maar nog baie geld spandeer om hom weer rybaar te maak.”

Van Schalkwyk vertel dat een van sy personeellede die afgelope ses jaar al daagliks die fiets gebruik om die aflewering van parte en onderdele te doen.

“Hy het Woensdag ’n aflewering gaan doen en vinnig by Mot se winkel in die industriële gebied stilgehou om koeldrank te koop. Hy het die fiets buite parkeer en na die yskas geloop. Toe hy omdraai was die fiets reeds weg. Dit het alles baie vinnig gebeur,” verduidelik Van Schalkwyk aan Standard.

Hy sê dat die polisie bewus is van die voorval en dat sy hart vreeslik seer is oor die fiets.

“Die fiets het baie karakter en ek het vreeslike sentiment aan dit. Ek het al baie geld spandeer om die fiets so oorspronklik as moontlik te kry. Dis ’n uiters unieke fiets in terme van sy bou en struktuur en jy kry nie ’n fiets vandag wat soveel gewig kan dra nie. Dis soliede yster van uiterse kwaliteit. Die fiets word so baie gebruik dat ek omtrent elke ses maande hom moet invat vir ’n diens en nuwe bande.”

Volgens bronne blyk dit of die fiets gewaar is in Roodewal, maar teen tyd van publikasie was die fiets steeds skoonveld.

“Ek sal geld betaal om die fiets terug te kry. Ek is baie heilig op hom.”

Enigeen met inligting kan vir Van Schalkwyk kontak by 023 347 4174.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article