Vrouedag is gister (9 Augustus) in Suid-Afrika gevier om die 20 000 vroue te gedenk wat in 1956 ’n petisie na die Uniegebou in Pretoria geneem het teen die paswetstelsel.
Nietemin vier Standard steeds vrouemaand tot einde Augustus om die rol wat dié geslag in die samelewing speel, en al die hoede wat hulle moet dra, onder andere ma-wees, ’n tuisteskepper maar ook terselfdertyd beroepsaangedrewe, te vier en te bespreek.
Standard het gaan aanklop by Botha Kelder buite Rawsonville, en met hul wynmaker, Annamarie van Niekerk, gesels oor wat vrou-wees vir haar beteken.
Volgens Van Niekerk, wat aan die hoof van Botha Kelder se witwyn-bereiding staan, is vrou-wees vir haar “meer as net ma of lewensmaat wees”.
“Dit is om elke dag voluit te leef en die beste vir jouself te gee, want slegs dan sal jy kan floreer op alle gebiede en kan streef na die beste.”
Dit is soms moeilik om al die balle gelyktydig in die lug te hou sonder om een te laat val, maar volgens Van Niekerk is die wenkombinasie goeie beplanning, sowel as ’n toegewyde lewensmaat en huishoudster.
“As jy vele balle in die lig probeer hou is dit belangrik om te weet watter balle sal hop as hulle val, dan fokus jy eers net op die balle wat gaan breek. As dié balle dan afgehandel is, vang jy weer dié wat hop en juggle verder.”
Histories word vroue deur baie uitdagings in die gesig gestaar wat dikwels insluit om aan verskeie verwagtinge oor ’n breë spektrum te voldoen.
Daarom het Van Niekerk gesê sy respekteer haar grense en aanvaar dat sy nie altyd almal gelukkig kan hou nie.
Dié ywerige wynmaker het grootgeword in Namakwaland en later verhuis na Kraaifontein in Kaapstad waar sy in 2004 aan die Hoërskool Monumentpark gematrikuleer het.
“Ek het my graad, BSC Agric wingerd en wynkunde, aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Direk daarna as ‘groentjie’ [het ek] begin as assistentwynmaker by Botha Kelder, en oor die afgelope 15 jaar geskaaf en my vaardighede ontwikkel tot waar ek vandag aan die hoof van witwyn-bereiding staan.”
Sy is deur die jare ook vereer met verskeie pryse wat insluit die Swarte Piet-trofee in 2020 vir haar bydrae tot die streek, en is ook gelys onder die 2022 Absa Pinotage Rose-kompetisie se top-ses vir haar blanc de noir.
Verdere toekennings gedurende die 2023-boekjaar sluit in dubbelgoud vir die 2018 Amyah Chardonnay by die Michelangelo Internasionale Wyn-en-spiritualieëkompetisie.
Hierdie toekenningslys, wat te veel is om op te noem, en wat sy oor verskeie jare opgebou het, gaan beslis nie hier stop nie.





