Die Angels Forum in Worcester, wat sedert Mei vanjaar as mondstuk dien vir die dorp se dagsorgsentrums, het sy jaarvergadering en uitstalling in die saal van die Calvyns Protestante kerk in Leopoldt-laan gehou.
Die forum is op 4 Mei gestig met 40 dagsorgsentrums en verteenwoordig die grootste deel van die Worcester-gemeenskap, onder meer Roodewal, Riverview, Hex-, Florian-, Esselen-, Johnsons-, Victoria-, en Avianpark.
Die sentrums in hierdie buurte staan ouers by deur dagsorgsentrums oop te stel, en 187 van dié kleuters gaan volgende jaar in die hoofstroom-onderwysstelsel opgeneem word.
Naomi Nel, Worcester-raadslid, lid van die Vryheidsfront Plus en portefeuljehouer vir gemeenskapsontwikkeling in die plaaslike munisipaliteit, het as gasspreker in haar toespraak werknemers van die onderskeie sentrums aangemoedig om as die Angels Forum saam te werk om sodoende die beste diens aan die kleuters en hul ouers te lewer.
Spacelina Kapot, voorsitter van die Angels Forum, het ’n paar hoogtepunte wat die forum in hul kort tydjie kon vermag, uitgelig.
Daar is onder meer ’n beskermingsweek van stapel gestuur met verskeie rolspelers soos die polisie, brandweer, honde-eenheid, Breede Vallei-munisipaliteit, korrektiewe dienste en Worcester Ekumeniese Gemeenskapsdiens wat beveiliging aangemoedig het.
Die Breede Vallei-munisipaliteit het ook grond beskikbaar gestel vir die forum om vroeëkinderontwikkelingsentrums (early child development centres) op te rig.




