Die jaarlikse matriek-eindeksamen begin Dinsdag (24 Oktober) met die praktiese eksamens in rekenaartoepassingstegnologie en inligtingstegnologie. Foto: Glenn Carstens-Peters/Unsplash


Altesaam 76 903 kandidate sal vanjaar die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen in die Wes-Kaap skryf. Hiervan is 64 105 voltydse kandidate, en 12 798 is deeltydse kandidate.

Die praktiese eksamens vind hierdie week plaas, met rekenaartoepassingstegnologie (11 731 kandidate) op Dinsdag 24 Oktober en inligtingstegnologie (1 000 kandidate) op Woensdag 25 Oktober.

Die skriftelike eksamens begin op Maandag 30 Oktober, met altesaam 66 831 kandidate wat Engels as huistaal, eerste addisionele taal of tweede addisionele taal in die oggend sal skryf. Altesaam 123 eksamenvraestelle sal tydens die eksamentydperk, wat op 5 Desember met landboutegnologie eindig, geskryf word.

Die vak met die meeste kandidate wat skryf is wiskundige geletterdheid, met 51 575 kandidate wat vraestel 1 op Vrydag 3 November en vraestel 2 op Maandag 6 November skryf.

Daarteenoor is het vier vakke net ’n enkele kandidaat wat in die Wes-Kaap skryf: IsiZulu as huistaal en eerste addisionele taal, Portugees as eerste addisionele taal, en Telegu as tweede addisionele taal. Dertien kandidate sal die Suid-Afrikaanse Gebaretaal-huistaal-eksamen voltooi.

Die eksamen sal by 469 eksamensentrums geskryf word, onder toesig van 1 878 opsieners wat verrigtinge en enige moontlike onreëlmatighede fyn dophou. Nasien sal ná die finale skriftelike eksamen begin, en 928 000 eksamenskrifte sal deur 4 158 nasieners gemerk en deur 1 046 puntetoetsers gekontroleer word.

Die nasionale-uitslae-aankondiging sal op 18 Januarie 2024 plaasvind, en uitslae sal op Vrydag 19 Januarie 2024 vir leerders by skole en aanlyn beskikbaar wees.

Gebeurlikhede vir beurtkrag en ontwrigtings

Dit is duidelik dat die WKOD eenvoudig geen ontwrigtings kan bekostig nie. Hoewel die departement elke jaar gebeurlikheidsplanne opstel, het ontwrigtings in die vorm van stakings en betogings ’n nadelige uitwerking op kandidate.

“Matriek is ’n stresvolle genoeg tyd sonder dat leerders hulle hoef te bekommer om veilig by hul eksamens uit te kom. Die WKOD doen ’n beroep op almal in die Wes-Kaap om matrieks vir die volgende paar weke as die BBP’s van die provinsie te behandel. Ons wil nie hê hul toekoms moet deur die selfsugtige optrede van enkeles in die gedrang kom nie,” sê die departement in ‘n persverklaring.

“Ons is ook bedag op die uitwerking van die voortdurende beurtkrag en verseker ons matrieks dat ons die nodige protokols ingestel het sodat die eksamen in die geval van geskeduleerde en ongeskeduleerde beurtkrag steeds kan voortgaan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article